Franse owerhede slaan toe op Islamiste ná onthoofding

Police Nationale, Frankryk se polisie (Foto: Police Nationale/Facebook)

Die Franse polisie het Maandag verskeie klopjagte op Islamiste gedoen in die lig van die onlangse moord op ʼn onderwyser in Parys, Frankryk.

Samuel Paty (47) is Vrydag in die openbaar in dié stad onthoof nadat hy karikature van die Moslemprofeet Mohammed in ʼn klas gewys het tydens ʼn gesprek oor vryheid van uitdrukking.

Die moord word deur Franse hooggeplaastes as ʼn “Islamitiese terreurdaad” bestempel.

Gerald Darmanin, minister van binnelandse sake, sê daar is Maandag op verskeie mense toegeslaan wat bande met radikale Islamiste het.

Volgens Darmanin sal die klopjagte oor die volgende paar dae voortduur. Daarbenewens het die minister gesê hy gaan ʼn verbod op twee Islamitiese groepe voorstel wat vyandig teenoor die Franse republiek is.

Samuel Paty, die vermoorde onderwyser. (Foto: Twitter)

Dít nadat daar Sondagaand deur die Franse verdedigingsraad onder voorsitterskap van pres. Emmanuel Macron besluit is om sterker teenoor radikalisering op te tree en meer te konsentreer op haatspraak op die internet.

Daar is sedert die moord reeds 80 klagtes ontvang rakende die verspreiding van haatspraak op die internet – Paty se onthoofding word onder meer aanlyn deur radikales en vermeende ekstremiste ondersteun en selfs verheerlik.

Altesaam 11 mense is reeds in aanhouding in verband met die moord.

Maroela Media het vroeër berig vier naasbestaandes van Paty se vermeende moordenaar is kort ná die moord in hegtenis geneem waarna nog ses mense Saterdag in hegtenis geneem is. Dié verdagtes sluit in die pa van ʼn leerder aan die skool waar die onderwyser klas gegee het en ʼn prediker wat deur die Franse media as ʼn radikale Islamis beskryf word.

Die persoon wat Paty na bewering onthoof het, is ʼn 18-jarige Tsjetsjniër wat in Moskou gebore is. Hy is kort ná die moord deur die polisie doodgeskiet.

Die 11de verdagte is glo ʼn vriend van dié aanvaller.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henk ·

Één Fransman se keel word afgesny en die Franse regering tree op. …dit word selfs deur ekstremiste verheerlik…! dit voel so na aan ons. Hier word ons brutaal vermink en die regering ontken dit. Ons moet mooi kyk wat om ons aangaan. Ons sit al te lank in Cyril se soppot…!

Pieter ·

Maak hulle klaar Franse. Saluut aan julle!! S.A kan leer, maar rassiste, Hatters sal nie.

Anel ·

Hulle arresteer 80 wat haatspraak op sosialemedia versprei. Hier verprei 100de haatspraak teen blankes en mowdig blanke moorde aan en NIEMAND word gearresteer nie. Ek is mal oor die Franse. Vive la France.

Kosie ·

Ongelukkig gaan die insidente se frekwensie verhoog. Dit is wat jy kry as jy jou grense oopgooi vir mense wat glad nie jou waardes deel nie. Macron en Merkel is direk verantwoordelik vir die man se dood. Europa gaan dalk weer ontdek hoekom mense grense en ‘n weermag het.

Niklaas ·

Ek dink dis te laat vir Macron om nou iets te doen , maar dis mooi dat hy pogings wil aanwend. Die ekstremiste is reeds daar in sy land in hul honderd duisende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.