Franse premier kom nie meer na SA

Franse eerste minister Édouard Philippe (Foto: Mueller via Wikimedia Commons)

Die Franse eerste minister se besoek aan Suid-Afrika is ter elfder ure onbepaald uitgestel.

Édouard Philippe sou beleggers na verwagting Donderdag en Vrydag op sy twee dag lange besoek op die hoogte gebring het van pres. Emmanuel Macron se pro-sake-hervormings, berig die Johannesburgse dagblad The Citizen.

Pres. Cyril Ramaphosa se kantoor het bevestig Philippe het die besoek uitgestel nadat Frankryk se minister van binnelandse sake, Gérard Collomb, onverwags bedank het. Philippe sou na verwagting ook bilaterale ooreenkomste met Suid-Afrika onderteken het.

Volgens die Nederlandse dagblad De Telegraaf het Macron Maandag nog geweier om sy bondgenoot se bedanking te aanvaar, maar Philippe, wat Collomb se amp intussen saam met sy eie waarneem, het Dinsdag gevra om voorstelle vir ʼn moontlike opvolger te doen nadat hy dit skaars 24 uur later aanvaar het.

Deutsche Welle beskryf Collomb se bedanking as ʼn reuse-terugslag vir Macron, wie se verhouding met die oudburgemeester van Lyon al soos dié van ʼn vader en seun beskryf is. Hy is die derde Franse minister wat binne drie maande bedank.

Hul verhouding het versuur weens ʼn skandaal oor een van Macron se gewese lyfwagte wat verfilm is terwyl hy betogers hardhandig behandel het.

Tydens ʼn parlementêre ondersoek het Collomb vir Macron daarvan beskuldig dat sy kantoor hul plig versuim het deur nie dié voorval aan te meld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anti Macron ·

Ja die minister van binnelandse sake het bedank want hy het deur Macron begin sien en kon dit nie meer met hom uithou nie. Die Franse publiek is egter ‘n bietjie stadig om deur Macron te sien. Maar moeilik om ‘n lib te wees .

Par ·

@AntiMacron, maar minstens bly ons veilig en is die rommel status nie ROFL

Anita ·

Pardon – Parys het nou die dag soos oorlogsone gelyk. Betogende ontevrede asielsoekers en ander buitelanders het polisie met alles en nog wat bestook. Polisie het soos ruimtemanne gelyk met skilde. Amper gedink dis hier ter plaatse – só onveilig het spulletjie daar in “asblik van Europa” gelyk. Begin al hoe meer dink dis beter hier waar die “rommel” al bekend lyk (of eerder ruik).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.