Friends-akteur Mike Hagerty oorlede

Mike Hagerty, veral bekend vir sy rol as die opsigter Mr. Treeger op Friends, is oorlede.

Bridget Everett, wat sy dogter op die HBO-komedie Somebody Somewhere speel, het Vrydag sy afsterwe op Instagram aangekondig. Hy is reeds op 29 April in die ouderdom van 67 oorlede.

Die oorsaak van sy dood is nie bekendgemaak nie.

“Dit is met groot hartseer dat die familie van Michael G. Hagerty sy afsterwe gister in Los Angeles aangekondig het,” het Everett op Instagram gesê. “Hy was ʼn geliefde akteur, en sy liefde vir sy tuisdorp Chicago en sy familie was die hoekstene van sy lewe. Ons gaan hom baie mis.”

Hagerty het verskeie onvergeetlike rolle as byspeler op ʼn rits gewilde komedies vertolk, insluitend Cheers, Friends, Seinfeld en The Wonder Years.

In Seinfeld het hy die rol van Rudy, eienaar van ʼn tweedehandseklerewinkel, vertolk. Hy het stranddrag van Jerry Stiller se Frank Costanza-karakter gekoop, onwetend dat dit vol motte is. Toe Kramer (Michael Richards) en Morty Seinfeld (Barney Martin) gordellose reënjasse aan hom wou verkoop, het hy dit van die hand gewys. Hy het verduidelik hy moes die stranddrag aan die brand steek.

In 1995 het hy as die geboue-opsigter Mr. Treeger in Friends verskyn. Hy is vir die eerste keer gesien in die episode “The One Where Heckles Dies” en hy het later gedreig om Rachel en Monica (Jennifer Aniston en Courteney Cox) uit te sit oor onwettige sub-verhuring. Joey (Matt LeBlanc) het hulle gehelp deur Mr. Treeger te help met sy danspassies. Hy is ook die laaste karakter wat in die reeks genoem word, toe Monica aan Chandler (Matthew Perry) in die 2004-slottoneel sê: “Ek het amper vergeet – ek het Treeger belowe ons sal die sleutels los.”

Hagerty word oorleef deur sy vrou Mary Kathryn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Darts girl ·

Dis so hartseer, my hart gaan uit aan sy familie. En al sy vriende

Frank John ·

Time to be born, time to die. Tyd om flieks te maak tyd om te pensioen, tyd vir elke ding onder die son. Tyd om jou Maker te ontmoet. Tyd wag vir niemand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.