‘Full House’-ster (65) dood in hotelkamer gevind

Bob Saget in 2019. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Die akteur en komediant Bob Saget, wat bekend was vir sy rol as die patriarg Danny Tanner in die sitkom Full House, is Sondag dood in ʼn hotelkamer in Orlando, Florida aangetref.

Hy was 65 jaar oud. Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie, maar sy familie het sy afsterwe in ʼn verklaring bevestig.

“Ons is verpletter om te bevestig dat ons geliefde Bob vandag oorlede is. Hy was alles vir ons en ons wil hê sy aanhangers moet weet hoe lief hy was vir hulle, vir regstreekse optredes en om mense van alle lewensterreine te laat lag,” lui die verklaring.

“Hoewel ons vra vir privaatheid gedurende hierdie tyd, nooi ons julle almal uit om saam met ons die liefde en lag wat Bob na die wêreld gebring het, te onthou.”

Luidens ʼn verklaring deur die Orange County‑sheriff se kantoor, is Saget se liggaam in ʼn kamer van die Ritz-Carlton-hotel in Orlando, Grande Lakes, aangetref.

“Die man is geïdentifiseer as Robert Saget en is op die toneel dood verklaar. Ondersoekers het geen tekens van vuilspel of dwelmgebruik gevind nie.”

Saget was in Florida as deel van sy komedietoer. Volgens sy toerdatums wat op Twitter geplaas is, het hy Saterdagaand by Ponte Vedra Beach, Florida, opgetree.

Bob Saget, Dave Coulier en John Stamos het in ‘Full House’ en ‘Fuller House’ verskyn. (Foto: Tommaso Boddi/AFP)

Die akteur het bekendheid verwerf vir sy rol as enkelpa in die sitkom Full House, wat in 1987 afgeskop het en agt seisoene gehad het.

Die sitkom het later as Fuller House vir Netflix herleef, met Saget wat weer die rol van Danny Tanner vertolk het. Dié reeks het tot 2020 verskyn waartydens Saget teenoor mede-akteurs Dave Coulier en John Stamos verskyn het.

Stamos het ʼn roerende huldeblyk aan Saget op Twitter gelewer. “Ek is stukkend. Ek is platgeslaan. Ek is in totale skok. Ek sal nooit weer ʼn vriend soos hy hê nie. Ek is baie lief vir jou, Bobby,” het Stamos geskryf.

Saget het ook onder meer die Amerikaanse televisieprogram America’s Funniest Home Videos aangebied en het ook as verteller in die sitkom How I Met Your Mother opgetree.

Bykomende bron: CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Hy is ook nie meer vandag se kind nie, baie jammer.
Ek glo dit was seker `n hart aanval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.