Fury loof Oekraïne se bokssoldate

Tyson Fury tydens gister se nuuskonferensie. Foto: Tolga Akmen/AFP.

Tyson Fury, die Britse swaargewigkampioen, het die Oekraïense boksers vir hul besluit geloof om hul bokshandskoene vir eers in die kryt te los om hul land teen die Russiese inval te verdedig.

Maroela Media het gister berig dat Wladimir en Vitali Klitschko teen die Russe baklei. Nóg ’n swaargewigkampioen, Oleksandr Usyk, is ook weer terug in sy geboorteland.

Die 33-jarige Fury meet binnekort teen Dillian Whyte in die Wembley-stadion kragte en tydens een van die voorafgaande nuuskonferensies het ’n verslaggewer hom oor Oekraïne se bokssoldate uitgevra.

“Ek dink dit is fantasties wat hulle doen. Ek sal die eerste een wees wat (by die magte) aansluit as Engeland of die VSA betrokke raak,” was sy onmiddellike antwoord.

Die reusebokser van 2,06 m en 126 kg het daarna oor die belangrikheid van nasietrots gepraat.

“Wanneer jy van ’n sekere land afkomstig is en daar woon, moet jy dit verdedig. Wees lief vir jou vrou en veg vir jou land,” het hy gesê terwyl lede van die media hom toegejuig het.

Die “Gypsy King” het egter ook gesê dat hy van plan is om sy bokshandskoene ná die Whyte-geveg weg te bêre.

“Ek is ’n tweemalig onbetwiste kampioen, ek het 150 miljoen in die bank en ek hoef niks meer aan enigiemand te bewys nie.”

Fury se WBC- en The Ring Magazine-titels is op die spel teen Whyte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Hier is geen Patriotisme in sa nie. Net ‘n klomp slap siele.

Dirk Mostert ·

Hy kan by die vreemdelinge-legioen aansluit. Sit sy geld by sy mond!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.