Gaan Blendle koerante red?

Foto: Blendle

Foto: Blendle

Die nuus dat die New York Times en die Duitse uitgewer, Axel-Springer saamgespan het om €3 miljoen in Blendle te belê, kan ingrypende gevolge vir koerante wêreldwyd inhou.

Maar wat is Blendle? Dit word dikwels as die iTunes van koerante beskryf. Die leser betaal net vir die berig wat hy op die internet van Blendle se webwerf aftrek.

Die idee word al lank in die VSA ondersoek, maar kon nog nie hond-haaraf maak nie. In Nederland het twee 27-jariges, Marten Blankensteijn en Alexander Klöpping, die programmatuur ontwikkel en Blendle geskep. Al loop dit nog op ‘n verlies, word dit as sukses beskou, met 130 000 intekenare na kwalik ses maande. Die geheim is om soveel as moontlik koerante daaraan te laat deelneem. Die koerant kry 70% van die inkomste, en Blendle 30%.

Dit is veral die kwaliteitsberigte wat sin aan Blendle se bestaan gee. Werk die konsep, sal meer kwaliteitsjoernaliste in die bedryf kan bly werk. Trouw was een van die Nederlandse koerante wat gou daarop ingeteken het. Benewens ’n groot aantal koerante van Nederland, kan enkele Belgiese koerante ook reeds deur Blendle gelees word, asook The Economist.

Maar al is Trouw deel van Blendle, weet die koerant ook dat dit nie die oplossing is nie. ’n Koerant het steeds ’n groot groep lojale intekenare nodig, waardeur hy ‘n behoorlike redaksie kan onderhou. En geen koerant, ook geen Blendle. (Trouw se artikel deur Dorien Pels kan hier gelees word.)

Trouw se benadering tot koerantlojaliteit staan in regstreekse kontras tot die Blendle-stigters se wysheid: “Die publiek wil bepaalde artikels lees, of hulle hang bepaalde joernaliste aan, en is nie meer besonder begaan oor in watter publikasies dit verskyn nie.” Hierin is hulle minstens deels korrek – die gemiddelde hoeveelhede trefslae wat verskillende rubriekskrywers op koerante se webwerwe kry, verskil baie. (Lees meer hier).

Onder die kritiek op Blendle is dat dit vir mense wat baie lees, baie duur kan wees. Hoewel die bedrag per artikel gewoonlik min is – beter artikels kos meer – maak die druppels naderhand die emmer oorvol. Dit lei noodwendig daartoe dat mense wat baie lees, dieselfde inligting wat hulle gratis op Blendle raakblaai, elders gratis kan gaan lees. Veral mense wat meer as een taal kan lees het ’n voordeel.

Tog is daar voordele. Die intekenaar kan by een adres “blaai” om te sien watter koerante bied watter interessante kwaliteitsnuus aan, en dan dit per item op Blendle se webwerf lees (en betaal). (Lees meer hier)

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Kobus ·

Ek glo nuus moet verniet wees. Dis die publiek se reg om te weet wat in die nuus aangaan, maak nie saak hoeveel geld hulle het om daarvoor te betaal nie. Anders beweeg ons terug na die middeleeue waar die koninklikes en die kerk besluit wat vir die publiek relevant is. Dit staan lynreg teenoor die vryheid wat die internet veronderstel is om te bring.

MM Wiese ·

Gaan nog hier ook gebeur .Kobus ons is reeds daar waar jy se , mense glo wat die koerant , die politikus en kerkleier se, maar ons’ het hul daardie geloofwaardigheid gegee ,,hulle se hoe kompleks die Bybel ,politiek , gesondheid , wereldgebeure edm is . Ek stap verby die “news stand” hier , lees die hoofberigte en tik “what really happened” blaaie op die net . Dan’ sien jy hoe was daar gelieg . Kennis is mag . Jy moet altyd n bietjie meer weet as , veral die een wat jou iets kos en hulle gaan dan nie van jou hou nie ,maar jy gaan vry wees van leuns

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.