Gabby Petito-gesin dagvaar polisie

Gabby Petito en Brian Laundrie tydens hul toer deur VSA. (Foto: North Port Police Department)

Die vermoorde Amerikaanse vrou Gabby Petito (22) se familie dagvaar die polisie in Moab, Utah, omdat hulle voel dat die polisie se nalatigheid tot hul dogter se dood gelei het.

Die familie eis nou $50 miljoen (sowat R831 miljoen) as skadevergoeding vir hul verlies.

Die Moab-polisiestasie, drie van sy beamptes, en tien ander as beskuldigdes wat in die saak gelys word, word van nalatigheid aangekla.

Luidens die klag word hulle daarvan beskuldig dat hulle “nalatig in hul ondersoek was” nadat Petito etlike weke voor haar dood glo deur haar verloofde, Brian Laundrie (23), aangerand is.

Petito se familie het ʼn onafhanklike ondersoek na die beamptes se reaksie gelas en bevind dat hulle die situasie nie behoorlik hanteer het nie.

Maroela Media het vroeër berig Laundrie en Petito het in Julie 2021 met ʼn reis deur die VSA begin. Hulle het deurgaans foto’s en video’s van idilliese landskappe op sosiale media geplaas.

Petito se familie het egter in September onraad vermoed toe Laundrie alleen met die paartjie se kampeerwa teruggekeer het. Laundrie het by sy tuiskoms in North Port, Florida, geweier om inligting aan die polisie te verskaf oor die twee se doen en late, waarna hy verdwyn het en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

Polisie se nalatigheid

CBS News berig Petito het sowat ’n maand voor haar dood na verskeie polisiebeamptes by die Moab-polisiestasie uitgereik nadat sy en Laundrie ʼn verbale en fisieke stryery gehad het.

Volgens die klag het iemand die polisie gebel en beweer dat hy gesien het hoe Laundrie vir Petito klap en haar slaan terwyl hy haar op ʼn sypaadjie in Moab agtervolg het. ʼn Ander getuie het aangemeld dat hy gesien het hoe die twee in ’n woordewisseling betrokke was.

“Een van die beskuldigdes, wat as Daniel Robbins geïdentifiseer is, het gesê dat die egpaar se bussie op ʼn snelweg gejaag het, oor die middelste geel streep uitgeswaai en ʼn randsteen getref het. Die bussie het toe buite Arches Nasionale Park stilgehou, waar Robbins tussen beide getree het en met hulle gepraat het,” lui die klag.

“ʼn Beampte net bekend as Pratt, wat ook as beskuldigde identifiseer is, het later by Robbins aangesluit, gevolg deur twee parkwagters.”

Beeldmateriaal wat deur die betrokke beamptes geneem is, wys hoe Petito sê dat sy in ʼn onderonsie met Laundrie betrokke was.

Tydens ondervraging het Petito volgens die klag “die tipiese tekens van ʼn mishandelde vrou” getoon. “Sy het egter nie die skuld op Laundrie gepak nie.”

Laundrie het op sy beurt aan die polisie gesê dat Petito hom probeer klap het, waarna hy haar gestamp het. Van die getuienis wat Laundrie aan polisie gelewer het, was ook teenstrydig.

Volgens die klag het die polisiebeamptes versuim om Laundrie oor sy teenstrydighede uit te vra. “Hulle het eerder bevind dat Petito die ‘primêre aggressor’ was en Laundrie die slagoffer.”

“Pratt het sy junior kollega, net bekend as beampte Palmer, gebel, wat hom aangesê het om ‘die aanrandingswet noukeurig te lees’ en te besluit wat om te doen. Pratt het glo net ʼn gedeelte daarvan gelees en het ʼn verkeerde begrip van die wet gehad. Hy het geglo dat aanranding slegs ʼn misdaad is as die persoon ‘bedoel het om liggaamlike besering te veroorsaak’.”

Robbins het daarvolgens gesê dat hy nie vir Petito glo nie en het besluit om nie ’n klag teen Laundrie aanhangig te maak nie. Hy het Laundrie en Petito wel vir die nag van mekaar geskei.

Petito is kort daarna vermoor. Haar liggaam is in September in ʼn nasionale woud in die deelstaat Wyoming gevind. Sy is verwurg.

Laundrie het kort ná Petito se dood selfmoord gepleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miena ·

Hoekom so lank wag voordat die familie wil begin stappe neem? Of is dit ook n geval gewees van navorsing en inligting en regs-advies ingewin voor hulle die saak aanpak? Ewenwel – dit bly nogsteeds n bitter hartseer saak.

Maria ·

Daardie Laundrie ou is n regte narsis wat die polisie geflous het met sy gelag en vriendelike geselsery. Die polisie is nie in staat om deur so ‘n skurk te sien nie, maar kon hulle langer geskei het sodat hulle kan dink in afsondering en ook beter uitvind wat aangaan. Mens kry die gedagte beide was op breekpunt. Is ‘n jammerlike gebeurtenis

AndrewL ·

Dit is net ‘n geldmaak storie.

Polisiebeamptes se magte is beperk. As ‘n slagoffer van wat ookal nie ‘n amptelike klagte wil maak nie, is daar weinig wat die polisie kan doen.

Tree hul op daardie stadium op, draai die betrokkenes teen die polisie. Tree hul nie op nie en daar gebeur iets soos dié is hul ook in die moeilikheid.

Hoeveel keer het ek mense in sulke situasies probeer help en meeste het maar net aangegaan – dikwels om maar net weer te verval in dieselfde rondomtalie.

Dit is hier waar die familie se betrokkenheid noodsaaklik is voordat ‘n tragedie afspeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.