Gabby Petito: Kêrel se ma sê sy sal help om van liggaam ontslae te raak

Gabby Petito en Brian Laundrie tydens hul toer deur VSA. (Foto: North Port Police Department)

Die ma van Brian Laundrie (23), kêrel van die vermoorde Amerikaanse vrou Gabby Petito (22), het in ’n brief aan haar seun aangedui dat sy hom sal help om van ’n liggaam ontslae te raak.

In die brief bied Laundrie se ma, Roberta, vir hom “’n graaf en vullissakke” aan indien hy van “’n liggaam ontslae wil raak”.

Daar word duidelik op die brief se koevert aangedui dat dit vernietig moet word nadat dit gelees is.

CNN en CBS News berig ’n regter het Woensdag die vrystelling van die brief, wat in die FBI se besit was, goedgekeur nadat Petito se ouers se prokureur versoek het dat dit as ʼn belangrike bewysstuk in hul siviele regsgeding teen die Laundrie-gesin gebruik word.

Die brief is in Laundrie se rugsak by sy liggaam gekry toe sy oorskot op 20 Oktober 2021 in die Carlton-reservaat in die Amerikaanse deelstaat Florida gevind is. Hy het homself etlike weke ná Petito se moord in die kop geskiet. Dit volg nadat hy in ’n brief skuld op die moord van Petito beken het.

Roberta skryf verder in die brief dat sy altyd vir Laundrie lief sal wees en dat sy weet hy sal ook altyd vir haar lief bly.

“Jy is my seun en niks sal maak dat ek ophou lief wees vir jou nie. Niks sal ons ooit kan skei nie, maak nie saak wat ons doen, waar ons gaan of wat ons sê nie. Ons sal altyd lief wees vir mekaar,” lui die brief.

(Foto: Twitter)

(Foto: Twitter)

(Foto: Twitter)

“Indien jy in die tronk is, sal ek vir jou ’n koek met ’n vyl in bak. Indien jy van ’n liggaam moet ontslae raak, sal ek daar opdaag met ’n graaf en vullissakke.”

Die brief haal ook verse uit Romeine in die Bybel aan: “Niks kan ons skei nie; nie haat nie, nie honger nie, nie haweloosheid nie, nie dreigemente nie, nie eers sonde nie, nie die denkbare of ondenkbare kan tussen ons kom nie,” lui dit.

In ’n siviele regsgeding wat in Maart verlede jaar aanhangig gemaak is, het die Petito’s aangevoer dat Laundrie op 28 Augustus 2021 aan sy ouers erken het dat hy Petito vermoor het. Haar liggaam is eers op 19 September 2021 naby Grand Teton Nasionale Park in Wyoming gevind.

Die Petito’s beweer in die regsgeding dat Laundrie se ma en pa, Christopher, hul seun se moordbekentenis verswyg het terwyl die ondersoek aan die gang was. Die Petito’s eis skadevergoeding van minstens $30 000 (sowat R589 796).

Maroela Media het vroeër berig Laundrie en Petito het in Julie 2021 met ʼn reis deur die VSA begin. Hulle het deurgaans foto’s en video’s van idilliese landskappe op sosiale media geplaas.

Petito se ouers tydens haar roudiens [Foto: Erin Smith, Twitter]

Petito se familie het egter in September onraad vermoed toe Laundrie alleen met die paartjie se kampeerwa teruggekeer het. Laundrie het by sy tuiskoms in North Port, Florida, geweier om inligting aan die polisie te verskaf oor die twee se doen en late, waarna hy verdwyn het en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

Die polisie het weke lank na hom gesoek nadat hy ʼn persoon van belang geword het in die moord op Petito.

Sky News berig die Laundries se prokureur, Matt Luka, het gesê dat hulle die brief betwis en sê dit was Roberta se manier om haar verhouding met Laundrie te herstel net voordat hy saam met Petito op die reis gegaan het.

Roberta het in ’n beëdigde verklaring erken dat sy die brief vir haar seun geskryf het in ’n tyd toe hul verhouding “gespanne was”.

“Ek het probeer om met Brian te skakel en ons verhouding te herstel terwyl hy van plan was om die huis te verlaat – en ek het gehoop hierdie brief sou hom herinner hoe lief ek vir hom was,” het sy geskryf.

“Terwyl ek woorde gebruik het wat moontlik verband hou met die moord, sou ek nooit kon besef dat die gebeure wat maande later tussen Brian en Gabby afgespeel het, die woorde in my brief sou weerspieël nie.

“Hoewel ek woorde gekies het wat ek gedink het ’n impak op Brian sou hê gegewe ons verhouding, het die brief geensins betrekking op Gabby gehad nie.”

“Dit was niks meer as die uitdrukking van liefde tussen ’n ma en haar seun nie,” sê Luka.

Luka sê die Petito’s se prokureur, Pat Reilly, het slegs sekere frases in die brief uitgelig vir “sensasiedoeleindes” en “om sy saak te versterk”.

“Die brief moet in sy geheel gelees word nie; nie net dele daarvan nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tian ·

Hoekom vra sy hom dan om die brief te verbrand, as dit onskuldig was, en voor die toer geskryf is…

Miskruier ·

Here as dit moet….sal ek eerder die moeder van n vermoorde kind wees, as die moeder van n moordenaar. Bewaar my kinders asseblief Here.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.