‘Game of Thrones’-akteur sterf ná kort kankerstryd

Ian Gelder in ‘Game of Thrones’. (Foto: IMBD)

Die Britse akteur Ian Gelder, wat veral bekend is vir sy rol as Kevan Lannister in die fantasiereeks Game of Thrones, is Maandag in die ouderdom van 74 ná ʼn kort stryd teen galbuiskanker oorlede.

Gelder se man, Ben Daniels, het dié nuus op Instagram bevestig.

“Ian is in Desember met kanker gediagnoseer en gister is hy om 13:07 oorlede. Ek het alle werk gestaak om sy versorger te wees, maar nie een van ons het enige idee gehad dat dit alles so vinnig sou wees nie,” het Daniels, ook ʼn akteur, in die plasing saam met die foto van die paartjie gedurende Kersfees, gedeel.

“Hy was ʼn wonderlike, wonderlike akteur en almal wat saam met hom gewerk het, is geraak deur sy hart en lig. Ek weet eerlikwaar nie wat ek sonder hom aan my sy sal doen nie,” het Daniels bygevoeg.

“Hy het sy verskriklike siekte met soveel dapperheid hanteer, sonder selfbejammering.”

Die Britse akteur se loopbaan het oor vyf dekades gestrek en rolle ingesluit in reekse soos Torchwood, His Dark Materials en Doctor Who.

Hy sou aanstaande maand sy 75ste verjaarsdag gevier het.

Bykomende bronne: BBC, Variety.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.