‘Game of Thrones’ prooi van kuberkrakers

Lena Headey as Cersei Lannister. Foto: HBO via AP)

Die Amerikaanse televisiekanaal HBO het vandeesweek gesê daar is groot moontlikheid dat episodes uit die jongste seisoen van die TV-reeks Game of Thrones kan uitlek nadat dié kanaal ʼn slagoffer van kuberkrakers was.

Volgens Entertainment Weekly het kuberkrakers reeds daad by woord gevoeg en dele van ander reekse, onder meer Ballers en Room 104, aanlyn uitgelek.

Volgens HBO het kuberkrakers episodes van die gewilde fantasiereeks Game of Thrones asook draaiboeke van episodes wat nóg nie uitgesaai is nie in hul besit.

“HBO het onder ʼn kuberkraakaanval deurgeloop en sommige van ons eiendomsinligting is in die voorval bekom,” lui die verklaring. “Ons het onmiddellik ʼn ondersoek van stapel gestuur en werk tans saam met owerhede om agter die kap van die byl te kom. Die beskerming van ons data is top-prioriteit en dit is ons erns om ons data te beskerm.”

HBO se voorstitter, Richard Piepler, het in ʼn e-pos gesê dié kuberaanval is “ontwrigtend, ontstellend en kommerwekkend”.

Die kanaal het nog nie presies bekend gemaak wat in die voorval gesteel is nie, maar wel dat die gesteelde data meer as 1,5 TB groot is.

Volgens The Guardian het heelwat joernaliste van die Amerikaanse media Sondag ʼn e-pos van kuberkrakers gekry wat dié data aan hulle beskikbaar wou stel.

“Hallo aan almal. Die grootste kuberaanval in die era van die internet gebeur tans. Die naam, vra jy? Ek het amper vergeet om te sê. Dis HBO en Game of Thrones. Jy is gelukkig om die eerste pionier te wees wat die kuberaanval beleef. Geniet dit en versprei die woord. Wie ook al die woord die beste versprei, kan ʼn onderhoud met ons kry,” het die e-pos glo gelees.

Game of Thrones, wat tans in sy sewende seisoen is, is dié kanaal se gewildste reeks, met sowat 10 miljoen kykers wat vir die nuwe reeks se eerste episode ingeskakel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niel ·

klink my Maroela wil die woord die beste versprei en so onderhoud kry ;-) ohhh ‘n Suid Afrikaanse media gaan die wereld kollig steel… ok, net ‘n grappie gewees. Dankie vir die interresante artikel.

snoefie ·

ek dink die “uitlek” en “kuberkrakers” berigte is net gratis bemarking vir hulle reekse.

Alida ·

Sjoe, ek was lanklaas so vasgenael voor die TV soos met hierdie reeks. Baie dankie vir die lokfilms, Maroela. Ek moet sê, as ek die vermoë gehad het om dit te kon doen, sou die versoeking groot gewees het om die episodes van die nuutste reeks te “hack”!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.