Ganse wêreld gons oor ‘Tinder’-swendelaar

Simon Leviev, nou bekend as The Tinder Swindler. (Foto: Facebook)

Sedert die Britse dokumentêr The Tinder Swindler op 2 Februarie vanjaar op Netflix gedebuteer het, is die wêreld aan die gons oor die laventelhaan Simon Leviev wat hordes vroue wêreldwyd uit derduisende dollar verneuk het.

Die dokumentêr, deur Felicity Morris, vertel die verhaal van drie vroue wat deur Leviev ingeloop is nadat hy hulle op die maatsoek-app Tinder ontmoet het.

Die Israeliese Leviev, wie se regte naam Shimon Hayut is, het dié app gebruik om individue te ontmoet wat hy emosioneel kan manipuleer om geldelik by te dra tot sy uitspattige en weelderige leefstyl.

Hayut het oor Europa heen gereis en hom as die seun van die Russies-Israeliese diamantmagnaat Lev Leviev voorgedoen. Hy het Tinder gebruik om vroue te kontak as Simon Leviev en hulle bedrieg om geld vir hom te leen, wat hy nooit terugbetaal het nie.

Hy sou vroue se voete onder hulle uitslaan met duur geskenke en hulle neem vir etes op private stralers deur geld te gebruik wat hy voorheen uit ander vroue geswendel het. Hy sou later voorgee hy word geteiken deur “sy vyande”, en dieselfde boodskappe en foto’s vir elkeen van die vroue stuur, en voorgee dat sy lyfwag, ene Peter, aangeval is en die slagoffers vra om hom geldelik by te staan.

Dié vroue sou dan banklenings en kredietkaarte gebruik om hom te help, waarna hy dan dié geld sou gebruik om nuwe slagoffers in te katrol.

Later sou hy ook maak asof hy die slagoffers terugbetaal deur bedrieglike dokumente wat valse banktransaksies aandui, aan te stuur en dan alle kontak met die slagoffers verbreek.

Wie is sy slagoffers?

Cecilie Fjellhøy van Noorweë is een van die vroue wat in ‘The Tinder Swindler’ haar ervaring met Simon Leviev deel. (Foto: Facebook)

Op hulle eerste afspraak in Januarie 2018 het Leviev vir Cecilie Fjellhøy, oorspronklik van Noorweë wat toe in Londen, Engeland, gewerk het, op ʼn privaat straler geneem vir ʼn enkele aand van Londen na Bulgarye.

Hulle het op Tinder ontmoet en sy het saam met hom koffie gedrink by sy luukse hotel. Hy het vir haar gesê hy moet ongelukkig weer op ʼn sakereis vertrek, maar het haar saam genooi – ʼn aanbod wat sy nie kon weerstaan nie.

Sy het hom op Google gesoek tydens die afspraak en gesien hy is die seun van ʼn diamantmagnaat, Lev Leviev. Sy het vinnig huis toe gegaan en ʼn paar van haar besittings in ʼn reistas gegooi terwyl ʼn motorbestuurder vir haar gewag het. Dit was die begin van ʼn warrelwind-verhouding wat haar uiteindelik hartgebroke en mislei gelaat het en in meer as $200 000 (sowat R3 miljoen) se skuld gedompel het.

Pernilla Sjöholm van Swede deel ook haar ervaring met Simon Leviev in ‘The Tinder Swindler’. (Foto: Instagram)

In The Tinder Swindler vertel Cecilie saam met twee ander slagoffers, Pernilla Sjöholm en Ayleen Charlotte – slegs drie van Simon Leviev se talle slagoffers – hulle kant van die storie.

Wie is Simon Leviev werklik?

Shimon Hayut is gebore in Bnei Brak, ʼn stad oos van Tel Aviv in Israel. Hy het wel sy naam verander, maar het geen verwantskap aan die Israeli-diamantmagnaat en sy familie nie.

Hy het in 2011 uit Israel gevlug om hofsake vir bedrogverwante misdade wat hy in sy vroeë twintigs gepleeg het, te ontduik en het na Finland gereis, waar hy met die geldmaakskema begin het, wat nou in die Netflix-dokumentêr blootgelê is.

Hy het van 2015 tot 2017 tronkstraf uitgedien in ʼn Finse tronk nadat hy drie vroue geswendel het en is daarna terug na Israel. Voordat hy weer aangekeer kon word, het hy ontsnap en teruggekeer na Europa, waar Fjellhøy se verhaal begin.

Leviev is ʼn gesoekte man in Israel, Swede, Engeland, Duitsland, Denemarke en Noorweë en is uiteindelik in Julie 2019 in Griekeland vasgetrek en na Israel uitgelewer ná die wilde gebeurtenisse wat in die dokumentêr gewys word. Hy het destyds alle aanklagte teen hom ontken.

Pernilla Sjöholm (links) en Cecilie Fjellhøy het ‘n hegte band gevorm nadat hulle begin saamwerk het om Simon Leviev aan die pen te laat ry. (Foto: Instagram)

“Ek het die reg om enige naam te kies wat ek wil, en het my nooit as die seun van enigiemand voorgedoen nie. Mense het hulle verbeeldings gebruik. Miskien is hulle harte in die proses gebreek, maar ek het nooit ʼn sent by hulle gesteel nie. Hierdie vroue het hulself in my geselskap geniet en het op my koste die wêreld platgereis,” het hy aan Israel se Channel 12 News gesê.

Hy is in 2019 skuldig bevind aan diefstal, bedrog en vervalsing van dokumente in Israel – klagtes wat terugdateer na 2011 en nie verwant is aan sy misdade reg oor Europa nie – en is 15 maande tronkstraf opgelê. Hy is egter na vyf maande vrygelaat vir goeie gedrag.

Waar is Leviev nou?

Simon Leviev, gebore Shimon Hayut, het vroue uit miljoene dollar gekul. (Foto: Facebook)

Simon Leviev (31) is tans op vrye voet in Israel, volgens Instagram-stories wat in The Tinder Swindler gewys word. Voordat die dokumentêr op Netflix uitgereik is, was sy profiel aktief met meer as 100 000 volgelinge, hoewel dit op privaat gestel was. Namate die dokumentêr gewild geraak het, het Leviev sy Instagram-rekening gedeaktiveer.

Voordat hy sy profiel uitgevee het, het hy geskryf: “Dankie vir die ondersteuning. Ek sal my kant van die storie in die volgende paar dae deel wanneer ek die beste en mees respekvolle manier gekry het om dit te vertel, vir myself en die partye betrokke.  Tot dan, hou asseblief julle koppe en harte oop.”

Hy is egter nog nie vir enige van die misdade wat buite Israel gepleeg is, aangekla nie, onder meer die swendel van Cecilie, Pernilla en Ayleen. Volgens The Times of Israel het hy na raming $10 miljoen (sowat R151 miljoen) uit slagoffers reg oor die kontinent tussen 2017 en 2019 geswendel.

Cecilie, Pernilla en Ayleen betaal nog steeds hulle skuld af.

Nadraai van die dokkie

Simon Leviev word aangekeer in Athene, Griekeland, in 2019. (Foto: Facebook)

Die dokumentêr is met lof ontvang en kry uitstekende kritiek van kenners en dokkie-liefhebbers wêreldwyd. Kevin Maher van The Times het selfs daarna verwys as “die Jaws van internet-afspraakdokumentêre”, met verwysing na die spanningsvolle rolprent-franchise waarby ʼn bloeddorstige haai betrokke is.

Sedert die dokumentêr uitgereik is, het Tinder permanent vir Leviev van sy platform geskors. Variety het ook berig dat Netflix beplan om die dokumentêr in ʼn rolprent te omskep en Netflix het ook ʼn spesiale drie-deel-podsendingsreeks vervaardig wat vertel oor die vervaardiging van die dokumentêr. Dié reeks delf selfs nog dieper in die lewe en metodes van Leviev.

ʼn GoFundMe-bladsy is ook intussen opgestel vir die slagoffers van dié pierewaaier om hulle te help om hulle skuld terug te betaal.

Intussen het die Suid-Afrikaanse supermark-franchise Checkers ook die oplewing oor The Tinder Swindler tot hulle voordeel begin gebruik deur op ʼn tong-in-die-kies‑wyse van die frases in die dokumentêr op die Sixty60-app aan te bring.

Diegene wat ʼn aankope deur die app wil maak, sal sien dat kategorieë soos “Billionaires club”, “My enemies are after me”, “Peter hurt?” en “No need to pawn your cars for these” by die app gevoeg is.

Sixty60 het ook The Tinder Swindler gevier met ʼn nuwe “Don’t get swindled”-funksie op die app. Wanneer jy dit druk, word jou produkte saam gegroepeer om by spesifieke temas uit die dokumentêr te pas.

The Tinder Swindler is nou op Netflix te sien.

Bronne: Esquire, Business Insider, Netflix

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Dit sit nie in enige man se broek om sulke truuks te maak werk nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.