Gaskrisis kan bier in Duitsland laat opdroog

(Argieffoto)

Die Duitse bierbedryf het tydens die Covid-19-pandemie reeds swaar getrek en ʼn verdere krisis staar die sektor nou in die gesig weens dreigemente dat Rusland sy gasuitvoere na die land kan verminder.

Energiepryse het die hoogte ingeskiet terwyl Rusland sy voorraad gas aan Duitsland verminder het en dit het tot vrese gelei dat ʼn akute tekort kan ontstaan indien die gastoevoer heeltemal opgeskort word.

“Sonder gas gaan die winkelrakke leeg wees,” het Holger Eichele, hoof van die Duitse Broueryfederasie, gewaarsku.

Volgens die Duitse federale statistiekkantoor, Destatis, is sowat 157,2 miljoen liter bier in die eerste ses maande van die jaar in Duitsland verkoop. Dit is ʼn toename van 3,8% vergeleke met die eerste ses maande van die vorige jaar.

Ondanks die styging was die verkoopsyfer in die eerste helfte van die jaar steeds 5,5% laer as die syfer wat die bedryf voor die pandemie bereik het.

Weens die dreigende gaskrisis het die federasie skrale hoop dat daar ’n verdere verbetering in bierverkope in die tweede helfte van die jaar gaan wees.

Brouers het die afgelope paar jaar hard gewerk om hul energieverbruik te verminder, maar dit was tot dusver “onmoontlik” om gas as die belangrikste energiebron vir die bedryf te vervang, het Eichele gesê.

Naas die chemiese bedryf is die voedsel- en drankbedryf Duitsland se grootste gebruiker van gas.

Bierbrouery behels ʼn hele aantal energie-intensiewe prosesse; van die rooster van die mout tot die verhitting van die tenks waarin die bier gebrou word.

Verskaffers soos die vervaardigers van glasbottels word boonop ook deur die stygende koste van energie geraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Oom ·

En ek wil oor twee weke na Duitsland reis. Nou staan ek ‘n kans om daar om te kom van die dors. Sal maar my bier uit Frankryk moet aanry.

Lourens ·

Is daar nie ‘n manier om hulle deur hierdie krisis te help nie?

VaalDonkie ·

Hulle moet maar soos ek maak en vrugtesap met gis “aanhelp”.

annie ·

Duitsland help Oekraïene om Rusland gas te gee en nou wil Rusland hulle nie meer help met gas nie? Dit speel gelyk. Nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.