‘Gaslek’ toe al die tyd stinkende vrugte

ʼn Doerian is ʼn stekelrige vrug afkomstig uit Suidoos-Asië en word beskryf as die vrug met die stinkste reuk ter wêreld (Foto: Pixabay)

Brandbestryders van Canberra in Australië het Vrydag na ʼn winkel in dié stad gehaas na berigte van ʼn gaslek – net om uit te vind dat die reuk van ʼn vrug naby die winkel afkomstig is.

ʼn Doerian is ʼn stekelrige vrug afkomstig uit Suidoos-Asië en word beskryf as die vrug met die stinkste reuk ter wêreld. Die vrug se reuk het in die verlede al tot soortgelyke noodoproepe gelei.

Noodpersoneel het Vrydag die publiek opdrag gegee om die gebied om die winkel te vermy terwyl hulle tevergeefs na die bron van die moontlike gaslek gesoek het.

Ná omtrent ʼn uur op die toneel het ʼn eienaar van ‘n woning bokant die winkel laat weet dat die reuk waarskynlik van dié vrug in die omgewing afkomstig is.

“Dit was nie ʼn gaslek nie, maar eintlik die reuk van ʼn doerian. Die vrugte gee ’n baie skerp reuk af en die wind kan die reuk ’n hele ent ver dra,” het die noodpersoneel bevestig.

Party mense vergelyk die vrug se reuk met dié van vullis – of in hierdie geval ’n gaslek. Weens die stank word die vrug in talle hotelle en op openbare vervoer verbied.

Die doerian groei veral in tropiese Suidoos-Asië en het ʼn bittersoet smaak en romerige tekstuur.

Australië het ʼn redelike groot Suidoos-Asiese bevolking, van wie die meeste van Maleisiese herkoms is. Maleisië is ʼn groot uitvoerder en verbruiker van doerians, berig The Washington Post.

Dit was Vrydag ook nie die eerste keer dat Australiese inwoners per ongeluk nooddienste ontbied het nadat hulle deur die tropiese vrug se reuk mislei is nie.

In 2018 moes byna 500 studente en dosente van die Royal Melbourne Institute of Technology uit ’n kampusbiblioteek ontruim word ná ’n waarskuwing oor ʼn chemiese gaslek. Die reuk wat hulle met ʼn chemiese gas verwar het, was toe egter ’n vrot doerian wat in ’n kas gelaat is.

Die jaar daarna het dieselfde gebeur toe studente uit die Universiteit van Canberra se biblioteek ontruim moes word ná die reuk van ʼn sterk gas aangemeld is. Nooddienspanne het die ruimte deursoek en weer eens ʼn doerian ontdek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.