Gates weg by Microsoft-raad oor ‘verhouding’

Bill Gates. (Foto: Kamil Zihnioglu/AP via wire.africannewsagency.com)

Die Wall Street Journal het Sondag berig dat Bill Gates glo verlede jaar die Microsoft-raad verlaat het weens aantygings dat hy ʼn romantiese verhouding met ʼn vrouewerknemer gehad het.

Gates, die stigter en voormalige hoof van die Amerikaanse tegnologiereus, het in Maart verlede jaar as raadsvoorsitter uitgetree.

“Die bestuurslede van Microsoft het besluit dat hy moet uittree, aangesien daar ʼn ondersoek van stapel gestuur is oor ʼn beweerde verhouding met ʼn werknemer,” berig die Journal.

Die verhouding is glo as onvanpas bestempel.

Gates se woordvoerder het egter gesê dat die verhouding waarna die raad verwys reeds byna 20 jaar gelede beëindig is.

Volgens die woordvoerder het Gates Microsoft verlaat om te konsentreer op die Bill en Melinda Gates-stigting.

Maroela Media het vroeër berig dat Gates en sy vrou, wat saam dié liefdadigheidsorganisasie op die been gebring het, ná 27 jaar saam besluit het om te skei.

ʼn Woordvoerder van Microsoft het aan AFP gesê dat die Microsoft-raad aan die einde van 2019 in kennis gestel is dat Gates glo in 2000 ʼn intieme verhouding met ʼn werknemer van die maatskappy aangeknoop het.

“ʼn Komitee, in samewerking met ʼn onafhanklike prokureursfirma, het die beswaar hersien en besluit om ʼn ondersoek van stapel te stuur.”

Die werknemer, ʼn ingenieur met wie Gates glo ʼn verhouding gehad het, beweer in ʼn brief dat sy oor die jare ʼn seksuele verhouding met Gates gehad het.

Gates se woordvoerder voer egter aan dat die twee jare terug al vriendskaplik uitmekaar is.

Die Microsoft-raad het terselfdertyd vrae gestel oor Gates se beweerde bande met die miljardêr en finansierder, Jeffrey Epstein, wat in 2019 dood in sy tronksel aangetref is. Epstein het gewag om verhoor te word vir sy beweerde betrokkenheid in die handel van minderjariges vir seks.

Gates se span het die raad verseker dat hy Epstein om filantropiese redes ontmoet het en die byeenkoms betreur.

Gates, wat Microsoft in 1975 gestig het, het in 2000 uitgetree as uitvoerende hoof van die maatskappy. Hy het sy voltydse rol by Microsoft in 2008 verlaat en sy rol as voorsitter van die raad, wat hy in Maart verlede jaar laat vaar het, was sy laaste amptelike verbintenis met die maatskappy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Heinrich ·

Mmm, lyk my daar is meer geld in entstowwe as in sagteware…

Esme ·

Spreek die man se leefstyl nie boekdele nie? Buite egtelike verhoudings, Jeffrey Epstein en sy traak my nie agtige houding in terme van Covid nie. Aai, ek is seker Melinda gaan beter af wees sonder hom.

Niklaas ·

Ons mans kan soms ook maar erg kop verloor oor skone dames en is eintlik glad nie die sterkere geslag nie . Dis dalks die rede vir die groot skeiding nou. Ek weet van een besonder welaf binnekort-geskeide dame iewers in die VSA

Jean ·

Shoh, van die mense wat hier kommentaar lewer glo te veel in “conspiracy theories”

Francois Le Cochon ·

Wys jou net, mans is maar soos boerewors. Daars altyd bietjie vark in.

Spyker ·

In Suid-Afrika is dit normaal. Staatpresidente hier doen dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.