Gatoorkop by vertoning, maar Franse duiker lag lekker saam

Skermgreep uit video/AFP

ʼn Vername Franse duiker het Donderdag by die inwyding van die watersportsentrum vir die Olimpiese Spele in Parys ʼn effense misstap begaan en gatoorkop voor pres. Emmanuel Macron – en die res van Frankryk – op die duikplank neergeslaan en toe in die water ingetuimel.

Maar Alexis Jandard, wat al twee keer op die podium by die wêreldkampioenskapstoernooi gestaan het, lag lekker saam oor sy reuseblaps – en daarvoor het hy reeds groot lof ontvang.

Die glyery het boonop oornag in ʼn aanlyn meme-sensasie verander.

Jandard, wat tydens die seremonie ʼn gesinchroniseerde roetine saam met twee ander duikers op ʼn duikplank van drie meter hoog uitgevoer het, het iewers misgetrap en eers op sy rug op die duikplank en toe in die water beland. En daarna was dit internet toe met hom.

Hy het egter Vrydag skertsend aan BFM TV, ʼn Franse TV-en-radionetwerk, gesê dat dit regtig met hom goed gaan.

“Die neerslanery was belaglik … maar dit is deel van die sport. As ek daarna kyk, kan ek nie ophou lag nie.”

Talle mense wêreldwyd kon ook nie ophou lag nie, maar Jandard sê dit is nou maar eenmaal iets wat duikers oorkom; “nie gereeld nie, maar dit is nie ongewoon nie”. En hy kan ook nie anders as om oor die vallery te lag nie.

“Dit gebeur soms tydens oefening of ʼn kompetisie.

“Maar hierdie blaps het voor die president tydens die inwyding van die swembad gebeur. Dit was die ergste ding wat kon gebeur.”

Skermgreep uit video/AFP

Jandard sê hy het ʼn boodskap van Macron ontvang, en die minister van sport, Amelie Oudea-Castera, het hom gebel en gerusgestel “dat hy nie daaroor bekommerd moet wees nie”.

Oor die Olimpiese Spele is sy doelwit duidelik: “om weer op die podium te staan”.

Jandard het Donderdagaand in ʼn video op Instagram skertsend aan sy volgelinge gesê “hulle verdien die waarheid” waarna hy erken het dat hy “voor die president van die republiek, voor die hele Frankryk, op die duikplank geval het”.

“Lag vir my, want ek verdien dit,” het hy gesê.

Hy sal tydens die Olimpiese Spele in Parys aan die gesinchroniseerde driemeter-item deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.