Gasa: Israel glo besig om te onttrek

Israel - vlagIsrael het Sondag na berig word eensydig begin om die meeste van sy troepe uit die Gasastrook te onttrek. Waarnemers meen egter Israel sal ‘n veiligheidstrook bly beset berig Trouw.

Na berig word het Israel in een van sy vernaamste doelwitte – die vernietiging van die meeste van Hamas se terreurtonnels, geslaag. Dit volg na ‘n humanitêre skietstilstand in duie gestort het kort nadat dit begin het. Volgens Israel is van sy manskappe wat besig was om tonnels op te spoor en te vernietig, aangeval. Twee is gedood, en ‘n derde, wat Israel aanvanklik gemeen het ontvoer is, is ook later as dood bevestig.

Israel het nietemin aangekondig dat dit Maandagoggend van 10:00 plaaslike tyd ‘n eensydige skietstilstand van sewe uur sal handhaaf sodat humanitêre hulp verleen kan word.

Hamas en die Palestynse owerheid het intussen weer afgevaardigdes na Kaïro gestuur om met Egipte oor die bemiddeling van vrede te onderhandel. Die twee instansies het op verskeie voorwaardes vir ‘n skietstilstand ooreengekom, waaronder die onttrekking van Israel se soldate aan Gasa, die opheffing van blokkades en sanksies en die vrylating van terroriste. Israel se standpunt in hierdie stadium is egter dat hy nie sal deelneem nie, omdat Hamas nie vertrou kan word nie.

Indien Israel wel besig is om aan Gasa te onttrek, beteken dit nog geen vrede nie. Hamas hou steeds vol dat dit die stryd gaan voortsit, terwyl Israel nog steeds met bombardemente op die lansering van vuurpyle reageer. Israel het juis weer skerp onder internasionale kritiek deurgeloop nadat drie Jihadiste op ‘n motorfiets geteiken is, en ‘n skool se ingang in die proses ook geraak is. Die skool staan onder VN-beheer en word as skuiling gebruik vir mense wie se huise vernietig is. Minstens tien mense het glo omgekom.

Israel maak intussen daarop aanspraak dat berigte dat sy aanvalle hoofsaaklik burgerlikes tref, disinformasie is. Die land gaan die name van die oorledenes bekend maak wat sal toon dat die meeste inderdaad jihadiste was.

Bronne: De Standaard, Christian Science Monitor, Trouw, The Telegraph

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.