Geboorte van (s)kattige cheetah-welpies ‘wetenskaplike deurbraak’

Die twee welpies is verlede week by die Columbus-dieretuin in die VSA gebore. (Foto: Grahm S. Jones/Columbus-dieretuin)

Die geboorte van twee jagluiperdwelpies danksy in vitro-bevrugting by die Columbus-dieretuin in die VSA is as ʼn wetenskaplike deurbraak bestempel.

Die dieretuin het met verskeie ander navorsingsinstellings saamgewerk en die welpies se geboorte vorm deel van ʼn breër bewaringsplan.

Die welpies se biologiese ma is Kibibi en hulle is Woensdag danksy surrogaat-ma Isabelle (Izzy) gebore. Dieretuinwerkers het die geboorte met behulp van ʼn kamera dopgehou en Izzy, ʼn nuwe ma, versorg haar welpies, ʼn mannetjie en ʼn wyfie, tot dusver baie mooi.

(Foto: Grahm S. Jones/Columbus-dieretuin)

Die welpies drink aan Izzy en die mannetjie het teen Maandag 480 g geweeg en sy sussie 350 g.

“Die twee welpies is dalk klein, maar hulle verteenwoordig ʼn reusedeurbraak met bioloë en dierkundiges wat saamgewerk het om dié wetenskaplike wonder moontlik te maak,” het dr. Randy Junge, adjunkpresident van dieregesondheid by die dieretuin, gesê.

(Foto: Grahm S. Jones/Columbus-dieretuin)

“Die prestasie verbreed die wetenskaplike kennis wat ons oor jagluiperds, ook bekend as cheetahs, se voortplanting het en kan ʼn belangrike deel vorm van jagluiperds se toekomstige bevolkingsbestuur.”

Tydens in vitro-bevrugting, oftewel IVB, word sperm en eiers in ʼn laboratorium bevrug en embrio’s gekweek. Die embrio’s word in die baarmoeder ingeplant, waar dit tot fetusse kan groei. IVB het die afgelope paar jaar ʼn algemene prosedure vir mense en sommige dierspesies geword, maar dit was tot dusver onsuksesvol in groot katte soos leeus en jagluiperds.

Jagluiperdwyfies Kibibi en Bella is as skenkers aangewys en Izzy en haar suster Ophelia as moontlike surrogate. Kort voor Kersfees het die dieretuin bevestig dat Izzy dragtig is. Die welpies se pa is Slash, ʼn driejarige jagluiperd van ʼn bewaringsentrum.

(Foto: Grahm S. Jones/Columbus-dieretuin)

Die Columbus-dieretuin het jare lange ervaring in die versorging van jagluiperds in aanhouding en die span het in middel Januarie begin voorberei vir die welpies se geboorte. Hulle sou in ʼn noodgeval ook ʼn keisersnee kon doen.

Izzy het verlede week egter normaal geboorte gegee en die welpies is perdfris.

“Die eerste ding wat ons moet doen, is om te bewys dat die tegniek werk. Dan moet ons vaardig daarmee word, sodat ons dit doeltreffend en betroubaar kan gebruik. Met ervaring kan ons later dalk embrio’s vries en na Afrika stuur,” het Junge gesê.

(Foto: Grahm S. Jones/Columbus-dieretuin)

Die dieretuin sê die deurbraak kan die voortbestaan van jagluiperds in hul natuurlike habitat help verseker. Bioloë probeer al jare lank onsuksesvol om jagluiperds kunsmatig te bevrug as ʼn manier om bevolkingsgetalle ʼn hupstoot te gee en ʼn uiteenlopende genepoel te handhaaf.

Volgens die Wêreldbewaringsunie (IUCN) word jagluiperds as “kwesbaar” aangedui en hul getalle daal al hoe meer in Afrika. ʼn Verlies aan natuurlike habitat, konflik met vee- en wildboere, asook onbeheerste toerisme beteken dat jagluiperds tans net 10% van hul geskiedkundige blyplek bewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LIEZL ·

Dis amazing waaraan mense tyd en geld kan spandeer. Maar wanneer ons as menswees en vrou graag kinders wil hê, dan wys hulle jou die deur as jy nie genoeg geld het vir INVITRO nie. Of as dit een keer misluk het, moet jy maar weer probeer, wys net eers jou geld. Daar is wel duisende sukses verhale, maar ook duisende waar dit elke keer faal, tot jy maar moed opgee of finansieël uitgeput is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.