Geen aanklagte teen ski-oord oor Covid-uitbreking

Argieffoto van Ischgl (Foto: Jürg Lohri/Pixabay)

Oostenrykse staatsaanklaers het Woensdag gesê dat hulle nie enigiemand strafregtelik gaan vervolg ná ʼn uitbreking verlede jaar by ʼn gewilde ski-oord waar duisende internasionale toeriste Covid-19 opgedoen het nie.

ʼn Verbruikersgroep, wat talle van die slagoffers verteenwoordig, het die besluit veroordeel. Hulle voer aan dat beamptes versuim het om die toeriste voor die tyd te waarsku en te beskerm. Sommige van die vakansiegangers het die virus opgedoen tydens vinnige ontruimings net ʼn paar dae ná die eerste geval in ʼn kroeg opgedoen is.

“Die ondersoek oor die verspreiding van Covid-19 in Ischgl in die lente van 2020 is gestaak. Daar is geen aanklagte nie,” het die staatsaanklaer se kantoor in Innsbruck in ʼn verklaring gesê. “Daar is geen bewyse dat enigiemand aanspreeklik gehou kan word of versuim het om enigiets te doen wat die risiko van oordrag kon beperk nie.”

Die kantoor het reeds in Mei besluit om nie enigiemand strafregtelik te vervolg nie, maar die besluit moes deur ʼn hoër owerheid goedgekeur word.

Vyf mense, insluitend vier plaaslike beamptes, is in Innsbruck ondersoek ná die uitbreking. Staatsaanklaers het 27 mense ondervra en 15 000 bladsye getuienis in ʼn “omvattende ondersoek” saamgestel.

Die hoof van die VSV-verbruikersgroep, Peter Kolba, het gesê sy groep wil die staatsaanklaer se besluit daag en sal “alles in sy vermoë doen” om amptelike foute te onthul. “Ek kry die indruk dat ʼn regeringskandaal hoofsaaklik onder die mat ingevee word,” het Kolba bygevoeg.

ʼn Hof in Wene het in September begin om siviele sake aan te hoor van eisers van Oostenryk en Duitsland wat die owerhede daarvan beskuldig dat hulle nie vinnig genoeg opgetree het om uitbrekings in Ischgl en by ander oorde te hanteer nie.

Van die 6 000 mense van 45 lande wat aanvoer dat hulle die virus in Ischgl in Tirool en omliggende dele opgedoen het, ly 5% aan simptome van lang-Covid, aldus die VSV. Altesaam 32 mense het gesterf.

Owerhede het hul simpatie betuig met die slagoffers en hul families, maar ontken dat hulle voete gesleep het of dat enigiets anders in daardie stadium gedoen kon word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Lekker vakansie gehou; duisende mens was volgens hulle daar en nou volg lekker eise… Covid word ‘n lekker money spinner.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.