Geen borgtog vir Assange ondanks beslissing oor uitlewering

Julian Assange. Foto: AP

’n Britse hof het Woensdag beslis dat die WikiLeaks-stigter Julian Assange in aanhouding moet bly terwyl die VSA appèl aanteken teen sy onlangse beslissing dat Assange nie aan die VSA uitgelewer moet word om klagtes van spioenasie in die gesig te staar vir die publikasie van honderdduisende geheime dokumente nie.

Regter Vanessa Baraitser wat Maandag geweier het om Assange se uitlewering aan die VSA toe te staan, het vandag in die hof gesê dat sou Assange vrygelaat word, daar “wesenlike gronde” is om te vermoed dat hy sal vlug en nie vir toekomstige appèlsittings sal opdaag nie.

“Billikheidshalwe moet die VSA my besluit kan betwis. As Assange gedurende hierdie proses op die vlug slaan, sal hulle die kans verloor om dit te doen,” het Baraitser verduidelik.

Stella Morris, Assange se verloofde en die ma van hul twee kinders, het die beslissing as ’n teleurstelling bestempel en die Amerikaanse departement van justisie versoek om die aanklagte teen haar verloofde te laat vaar.

Assange staan op 18 aanklagte in die VSA tereg wat verband hou met WikiLeaks se vrystelling van 500 000 geheime dokumente waarin aspekte van militêre veldtogte in Afghanistan en Irak uiteengesit word. Indien Assange in Amerika skuldig bevind word, kan hy tot 175 tronkstraf ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.