Geen borgtog vir Epstein se vriendin

Argieffoto van Ghislaine Maxwell (Foto: Chris Ison/PA via AP, File)

“Sonder Ghislaine sou Jeffrey nie kon doen wat hy gedoen het nie.”

Só lui ʼn verklaring deur een van die Amerikaanse miljardêr en finansierder Jeffrey Epstein se vermeende slagoffers wat Dinsdag tydens Ghislaine Maxwellse hofverskyning voorgelees is. Maxwell was ʼn jare lange vriendin van Epstein.

Maxwell het via video in ʼn hof in Manhattan in New York verskyn in verband met haar beweerde betrokkenheid by Epstein se sekshandel van minderjarige meisies. ʼn Regter het Maxwell se aansoek om borgtog tydens die hofverskyning van die hand gewys aangesien sy ʼn vlugrisiko inhou.

Maroela Media het vroeër berig Maxwell het voorgestel dat sy onder huisarres met GPS-opsporing vrygelaat word. Sy het ook ʼn verband van $5 miljoen (sowat R84 miljoen) as sekuriteit verseker, sou sy vrygelaat word. Aanklaers het egter aangevoer dat dié sekuriteit niks werd is nie.

Argieffoto van Ghislaine Maxwell (Foto: Chris Ison/PA via AP, File)

“As sy glo dat sy die risiko van gevangenisstraf loop, sal sy nooit terugkom nie. As sy buite is, het ek beskerming nodig,” het die vermeende slagoffer in haar verklaring wat aan die hof voorgelees is aangevoer.

Maxwell wat onskuldig gepleit het op die aanklagte teen haar, sal nou vir die volgende jaar in aanhouding bly tot en met haar verhoor in Julie 2021.

Maxwell kan tot 35 jaar gevangenisstraf opgelê word sou sy skuldig bevind word.

Die 66-jarige Epstein is Augustus verlede jaar dood in sy tronksel in ’n gevangenis in Manhattan aangetref nadat hy vermoedelik sy eie lewe geneem het. Hy is ʼn maand tevore in hegtenis geneem op aanklagte dat hy talle minderjarige meisies etlike jare lank seksueel mishandel het.

Maxwell het jare lank saam met Epstein gewoon en het gereeld saam met hom gereis. Sy ontken egter enige betrokkenheid by sy seksmisdrywe of dat sy van Epstein se beweerde seksuele wangedrag geweet het.

Jeffrey Epstein en Ghislaine Mawell saam in 2005 (Foto: BBC)

Epstein, ʼn welgestelde verskansingsfondsbestuurder wat eens vriende met oudpres. Bill Clinton, pres. Donald Trump en die Britse prins Andrew was, het glo minderjarige meisies betaal om hom by sy huise in Florida en New York masserings te gee waar hy hulle glo gemolesteer het.

Die aanklagte teen hom hou verband met bewerings wat dateer van die vroeë 2000’s.

Bykomende bronne: BBC, CNN 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet

Sal verbaas wees as sy nie ook “selfmoord” pleeg nie. Sy weet dinge van die magtigste mense op aarde, hulle gaan nie toe laat dat sy iets sê nie. Die Clintons, Elon Musk, Donald Trump, Bill Gates… dis skokend dat die mense met kinders lol.

Niklaas

Mag geregtigheid seëvier in hierdie geval. Geen simpatie met hierdie dame , maar ons moet onthou dat sy nog nie skuldig bevind is nie.Ek glo egter nie dat sy onkundig was t.o.v. daai Epstein se beweerde dade was nie.

Probeer verstaan

Wolf met skaap se klere.

Magda

Wens on showe wil so streng wees, maar as R84mil genoem word, is sy dadelik op Borgtog. Hoop sy kry lewenslank, sy verdien niks minder nie.