Geen einde aan koninklike moddergooiery

Prins Harry en Meghan op hul troudag in 2018. (Foto: Daniel Leal-Olivas/AFP)

Koningin Elizabeth II se 99-jarige man, prins Philip, is na ʼn suksesvolle hartoperasie na ʼn private hospitaal in Londen oorgeplaas, het Buckingham-paleis Vrydag aangekondig.

Die aankondiging is gedoen terwyl die Amerikaanse uitsaaier CBS nog ʼn uittreksel uit sy onderhoud met die hertog van Edinburg se kleinseun prins Harry en dié se vrou, Meghan, bekend gestel het.

En dit het ʼn trans-Atlantiese koninklike woordeoorlog ontketen.

Die paartjie se kritiek op die koninklike lewe en kommer oor prins Philip se gesondheid – hy word in Junie 100 jaar oud – het oproepe tot gevolg gehad dat die uitsending uitgestel moet word.

Harry (36) en Meghan (39) het verlede jaar as werkende lede van die koningshuis teruggestaan en Meghan het die eeue oue instelling daarvan beskuldig dat hy leuens oor hulle versprei.

ʼn Interne paleisondersoek staar Meghan glo ook in die gesig oor bewerings dat sy werkers van die koninklike huishouding gedurende haar tyd in Engeland geboelie het.

In die Verenigde Koninkryk (VK) was daar in die eerste plek kommer oor die welstand van die bejaarde Philip nadat hy van ʼn spesialiseenheid oorgeplaas is om by ʼn private hospitaal aan te sterk. Hy is sowat drie weke gelede aanvanklik in ʼn hospitaal opgeneem.

Ongespesifiseerde prosedure

Prins Philip (Foto: Adrian Dennis, AFP)

Prins Philip is Maandag na die St. Bartholomew-hospitaal geneem vir ʼn ongespesifiseerde prosedure vir ʼn harttoetstand.

“Die hertog gaan na verwagting nog etlike dae lank behandeling in die hospitaal ondergaan,” het paleisamptenare gesê.

Die voormalige vlootoffisier se lang hospitalisasie het, gegewe sy ouderdom, groot vrese oor sy gesondheid veroorsaak – maar amptenare was gou om te benadruk dat dit nie met Covid-19 verband hou nie.

Die hertog en die 94-jarige koningin is albei in Januarie by die Windsor-kasteel teen die virus ingeënt. Hulle is al bykans ʼn jaar lank daar in isolasie.

Vroeë vandeesweek het Camilla, hertogin van Cornwall wat getroud is met Philip se oudste seun, prins Charles, gesê Philip se toestand “verbeter effens”. Prins Edward, Philip se jongste seun, het verlede week gesê sy pa is gretig om ontslaan te word.

Herrie oor onderhoud

Prins Harry en sy vrou, Meghan. (Foto: Frank Augstein/AP)

Koninklike waarnemers het hul kommer te kenne gegee oor die uitwerking wat Harry en Meghan se onderhoud met die Amerikaanse kletskoningin Oprah Winfrey gaan hê. Die onderhoud word na verwagting Sondag uitgesaai.

Brokkies inligting oor die onderhoud, wat in die glanspaar se herehuis in Kalifornië gedoen is, word deur sommige gesien as ʼn poging om die storielyn te beheer – en simpatie te soek – na hul besluit om die koninklike lewe vaarwel toe te roep.

Sedert hulle saam met hul jong seun, Archie, na die VSA verhuis het, het die egpaar ʼn reeks regsgedinge teen die media oor sekere beriggewing aanhangig gemaak. Vrydag het ʼn Londense hof die Mail on Sunday onder meer beveel om ʼn voorbladverklaring te plaas nadat Meghan haar saak teen dié koerant gewen het.

Die paartjie se houding het mense verdeel, met sommige kritici wat sê hulle verbreek ʼn stokou koninklike gebruik om nie in die openbaar oor persoonlike en private sake te praat nie.

Meghan, wat formeel bekend staan as die hertogin van Sussex, sê in die jongste uittreksel dit was “bevrydend” om met Winfrey oor die beperkings van protokol en presedent te praat.

Winfrey het reeds voor die egpaar se sprokiestroue in 2018 – ʼn troue wat sy ook bygewoon het – gevra om ʼn onderhoud met hulle te voer. Meghan, ʼn voormalige TV-aktrise en kampvegter vir vroueregte, geestesgesondheid en welsynsorganisasies, sê sy moes die aanbod in daardie stadium van die hand wys.

Sy sê sy is in nou die posisie – en gereed – om te praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Groen Ghoen ·

Ek sekondeer jou Willem, en dit met ‘n laaaaaang GAAP!

Snowball ·

Ag die tweetjies is so ‘plastic’ jy kan hulle ‘recycle’.
Groot ontboesemings oor persoonlike sake, maar dit wil eintlik nie die publisiteit he nie??? Hoe dig dink hulle is mense? Twee uiters bevoorregte aandagvrate.

Rentia ·

Die twee wil nie aandag hê nie, “verpes die media” maar hol baie vinnig na Oprah toe vir bietjie media aandag? Het die lewe bietjie vervelig begin word? Harry, jy’s in die kollig gebore. Word groot, deal daarmee en aanvaar jou verantwoordelikhede! Het jou ma ‘n prins grootgemaak wat weghol en in ‘n hoekie wil gaan sit en huil, of sou sy wou sien dat jy die lewe aangryp, vir jou kind se onthalwe? Megan, wel ja, jy soek nog jou lewe lank aandag, ons laat dit daar…

Sarel ·

Bang vir die Media??? Sy is ‘n Mediaslaaf en kan nie sonder die aandag van die Media leef nie. Sy kon in Britanje nie haar sin kry nie nou soek sy simpatie by haar almar mater
Intusen offer Harry alkes op…virwat

Anton ·

Ek stel meer belang in die bobbejaan trop hier naby RooiEls ????

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Waarom is mense so behep met sogenaamde koningshuise (“Royalties”)? Hulle is nie gode nie en daar vloei geen blou bloed in hul are nie. Raak gespeen. Almal is voor die Skepper gelyk.

Mieke ·

Liewe aarde! Al die die dinge wat genoem teen Meghan is net negatief!! Ek is seker dat die pers verantwoordelik vir die baie negatiewe berigte is. Sy het seersekerlik ook goeie eienskappe. Hoekom word daar oor nie gepraat nie? Nee-wat…. ek dink mense moet ophou met oordeel. Soos jy oordeel, sal jy ook eendag geoordeel word!

Nico ·

Sy het goeie eienskappe maar gebruik tans net die negatiewe eienskappe en breek ander af. Sy wend haar nou tot n mens genaamd Oprah om “bevrydend” te word wat sy nie gaan word nie. Pleks dat sy die Woord se wysheid volg van daar is krag in stil wees en glo.

JohanR ·

Het Pierce Morgan nie gese “what Meghan wants, Meghan gets?”

MakersMark ·

Ha ha vandat die prins met die trailer park inhabitant getrou het is die verhouding met die engelse koningshuis na die maan….

pompies ·

Nou ja die ou koningin het mos gese meghan do not get what meghan wants, ek voorspel daar gaan groot probleme nog in harry se lewe kom met daai vrou aan sy sy.

Leana ·

Mens raak nou regtig moeg vir die 2. is net ‘n sensasie soekery.

Stof ·

Oor Archie word berig asof hy ook saampraat en saamstem…
Sal daar dalk die dag waarop hy agtien word, ‘n ondersoek na sy stilswyende uitsprake uit sy prille jeug geloots word?

Elsabe ·

Vandag Meghan in die verhaal ingeskryf is, het negatiewe nuus uit die paleis nog nooit opgehou nie. Sy sorg vir drama.

Pietertjie ·

Bid jou dit aan : koninklike modder! Dalk moet die klompie maar hierdie eeue-oue “tradisie” vaarwel toeroep. Dis behóórlik outyds.

Jax ·

Ag nee MM. Het julle regtig niks anders om berig oor te lewer nie? Niemand stel in die twee bedorwe, ontdankbare brokkies nie!
Dit raak nou afgesaag!

Kobus ·

Niemand? Natuurlik stel baie mense belang! Dis hoekom miljoene na hul troue gekyk het!

Blomme ·

Was sy nie bewus dat Diana se seuns altyd diie middelpunt van media belange is waar hul gaan nie… Was dit nie juis wat sy wou hê nie… Dit het mos haar naam alombekend gemaak. Iets wat sy nie as aktrise reggekry het nie. Strategic move! Net jammer dat hy daarvoor geval het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.