‘Geen hoop’ vir vermiste vyf ná chemiese ontploffing

Rook borrel uit die aanleg in Leverkusen, Duitsland ná ‘n ontploffing (27 Julie 2021) (Foto: Roberto Pfeil/AFP)

Vyf persone word steeds vermis ná ʼn groot ontploffing Dinsdag by ʼn chemiese aanleg in Duitsland. Owerhede het Woensdag gesê dit is onwaarskynlik dat hulle lewend gevind sal word.

Maroela Media het vroeër berig Duitsland se nasionale waarskuwings-app het boodskappe van “opperste gevaar” aan alle inwoners gestuur en hulle aangesê om in die huis te bly en hul vensters en deure toe te hou. Mense is ook gevra om noodnommers net in uiterste gevalle te gebruik. Twee mense is Dinsdag dood aangetref en 31 is beseer.

Inwoners word ook gemaan om nie aan die giftige roet van die ontploffing te raak nie.

“Ons het nie enige hoop dat ons die vyf vermiste persone lewend sal vind nie,” het Frank Hyldmar, uitvoerende hoof van die Chempark-operateur Currenta, gesê. “Ons dink aan hulle families.”

Die oorsaak vir die ontploffing by Chempark se afvalverbrandingsperseel in Leverkusen is steeds onbekend, het Hyldmar tydens ʼn perskonferensie gesê. Die ontploffing het ʼn groot swart rookwolk veroorsaak en kon kilometers ver gevoel word. Die ruite van nabygeleë huise het ook gerammel. Brandbestryders het ure lank gespook om ʼn brand, wat in die opgaartenks ontstaan het, te blus.

ʼn Waarskuwing is Dinsdag uitgereik totdat owerhede kon bevestig dat lugbesoedelingsvlakke na normaal teruggekeer het.

Kenners probeer bepaal of die roetpartikels ná die ontploffing moontlik giftig kan wees. ʼn Finale verslag sal na verwagting eers oor ʼn paar dae beskikbaar wees.

Hans Gennen, bedryfshoof van Currenta, het inwoners gewaarsku om nie aan enige oorblyfsels te raak nie en om owerhede te kontak sodat monsters geneem kan word. Inwoners is ook aangeraai om nie enige vrugte of groente uit hul tuine te eet nie en speelgronde in Leverkusen se Buerrig en Opladen-woonbuurte is tydelik gesluit.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om die oorsaak van dié tragedie te vind,” het Hyldmar bygevoeg.

Vier van die vermiste persone is Currenta-werknemers. Die vyfde persoon werk vir ʼn eksterne maatskappy.

Van die 31 persone wat beseer is, is een in ʼn ernstige toestand. Almal wat beseer is, het by die chemiese aanleg gewerk.

Die gebied waar die ontploffing gebeur het, is in Leverkusen se Buerrig-distrik, naby Chempark se hoof-nywerheidspark waar chemiese maatskappye soos Bayer, Lanxess en Evonik Industries geleë is.

ʼn Verslag in Der Spiegel-tydskrif het gesê die ontploffing kon tot 40 km ver gevoel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

E ·

Wel gelukkig is ons in die tyd van maskers dra. So almal rondom sal darem beskerm wees teen die giftige roet partikels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.