Geen inenting dalk nodig vir spelers by Australiese Ope

Novak Djokovic weier om sy inentingstatus bekend te maak en hou vol dit is ‘n private kwessie. (Foto: Kena Betancur/AFP)

Tennisspelers wat nie ingeënt is nie, sal steeds toegelaat word om aan die Australiese Ope deel te neem, maar sal volgens ʼn uitgelekte e‑pos van die Vrouetennisvereniging 14 dae in kwarantyn moet deurbring. Regeringsamptenare hou egter vol ʼn finale besluit is nog nie geneem nie.

Die reëls sal waarskynlik ook vir mans geld en gee Novak Djokovic, die wêreld se voorste speler, die kans om sy titel in Januarie by Melbourne Park te verdedig.

Die e‑pos aan spelers van die vroue se bestuursliggaam is aan Ben Rothenberg, tennisskrywer van die New York Times, uitgelek. Hy het dit op Twitter gedeel. Die inligting is teenstrydig met amptenare se vroeëre verklarings wat daarop gesinspeel het dat spelers wat nie teen Covid-19 ingeënt is nie, nie visums sou kry nie.

Die e‑pos lui dat spelers wat ten volle teen die koronavirus ingeënt is, nie in verpligte kwarantyn hoef te gaan of in sogenaamde bioborrels te bly nie en dat hulle “algehele vryheid van beweging” sal hê.

Diegene wat nie ingeënt is nie, sal na Australië kan reis, maar sal twee weke se verpligte kwarantyn in ʼn hotel moet afhandel en gereelde koronavirustoetse ondergaan.

“Ons het ʼn behoefte om na julle uit te reik om vals en misleidende inligting te weerlê wat onlangs deur ander partye versprei is oor die toestande waaraan spelers by volgende jaar se Australiese Ope onderwerp sal word,” lui die e‑pos.

“Omdat Victoria se inentingskoers teen die einde van die week 80% sal bereik en 90% volgende maand, is dit bevestig dat toestande vir spelers by die Australiese Ope beduidend sal verbeter.”

Spelers wat ingeënt is, kan enige tyd ná 1 Desember in die land aankom, moet ʼn negatiewe toets kan wys 72 uur voor hulle na Australië vertrek en weer 24 uur nadat hulle in die land aankom. Daarbenewens sal geen ander beperkings geld nie.

Tennis Australië sê hy is “optimisties dat ons die Australiese Ope so na as moontlik aan voor-pandemietoestande kan hou”.

“Ons werk saam met die Victoria- en federale regerings oor die toestande vir spelers by die Australiese Ope 2022 en sien daarna uit dat die besonderhede binnekort bevestig word.”

Die klaarblyklike besluit om spelers wat nie ingeënt is nie in Australië toe te laat, weerspreek uitlatings van senior immigrasiebeamptes verlede week, ook deur minister van immigrasie, Alex Hawke, wat gesê het “elke besoeker aan Australië moet twee keer ingeënt wees”.

Gesprekke duur voort

Martina Pakula, minister van sport vir Victoria, het Maandag volgehou die inentingsvereistes is nog nie afgehandel nie.

Pakula sê daar word nog met die nasionale regering beraadslaag oor of internasionale reisigers wat nie ingeënt is nie 14 dae in kwarantyn sal moet deurbring, of glad nie in die land toegelaat gaan word nie.

Djokovic, ʼn negemalige Australiese Ope-kampioen, is een van talle spelers wat weier om sy inentingstatus bekend te maak en dit het twyfel laat ontstaan oor of hy sy titel gaan verdedig.

“Ek weet nie of ek na Australië gaan reis nie,” het hy verlede week aan die Serwiese koerant Blic gesê. Hy wou ook nie bekend maak of hy ingeënt is nie en sê dit is ʼn private kwessie.

Luidens berigte is die inentingskoers vir tennisspelers tussen 50% en 60%, maar Pakula het met die hoof van die Australiese Ope, Craig Tiley, gepraat en hy glo dit is veel hoër.

“Ek verstaan van my gesprek met Craig Tiley vanoggend dat die inentingskoers vir spelers betreklik vinnig toeneem en nou naby aan 80% is.”

Melbourne is deel van die staat Victoria, wat Vrydag uit een van die wêreld se langste reeks inperkingstye gekom het. Daar was 260 dae van inperking sedert die pandemie uitgebreek het.

Die staat het daagliks steeds sowat 1 500 nuwe gevalle, maar die premier het Sondag gesê groot skares kan dalk binnekort weer by sportbyeenkomste toegelaat word. Daar is ook aanduiding dat meer as 80 000 mense die kriekettoets tussen Australië en Engeland op 26 Desember kan bywoon.

Vanjaar se Australiese Open is swaar getref deur die pandemie en alle spelers is onderwerp aan twee weke lange kwarantyn. Skares was beperk en ʼn vyf dae lange blitsafsondering is in die middel van die toernooi aangekondig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andrew

En wat as n ge-ente speler die virus daar loslaat? Moet hulle nie ook kan wys dat hulle negatief is nie. WHO sê self jy kan die virus versprei al is jy ge-ent. So wie moet nou eintlik hier beskerm word, want die ge-ente ou is mos beskerm en hy mag kom en gaan (met virus en al) soos hy wil?

Andries

Met 90% inentingkoers waarom dan nog bang wees vir die wat nie ingeent is nie.
As ek my geelkoors inenting kry en na Midde-Afrika reis bekommer ek my tog nie oor die miljoene rondom my wat nie ingeent is nie, want ek glo die inenting is effektief om my te beskerm.

Samuel

Hierdie is absoluut wyse besluit.

VaalDonkie

Jy weet ne, jy kan nog altyd die virus oordra al is jy inge-ent. Die mense is besig om nonsies aan te jaag deur voor te gee asof jy 100% veilig is as jy die entstof gekry het.