Die sosialemediaplatform Instagram was Maandag ontoeganklik vir gebruikers in Rusland. Dít volg nadat Moskou Instagram se moedermaatskappy, Meta (wat ook Facebook besit), daarvan beskuldig het dat oproepe vir geweld teen Russe, waaronder die weermag, op sy platforms toegelaat word.
Die internasionale nuusuitsaaier CNN berig dat gebruikers Sondagaand deur Rusland se mediareguleerder, Roskomnadzor, in kennis gestel is dat die diens opgeskort sal word. In dié e-pos is gebruikers aangeraai om hul foto’s en video’s vroegtydig na Rusland se eie “mededingende internetplatforms” te skuif.
Luidens die berig word sowat 80 miljoen Russiese gebruikers deur die besluit geraak.
Facebook en Twitter is reeds vroeg in Maart in Rusland versper as deel van omvattende pogings deur Moskou om inligting oor sy militêre optrede in Oekraïne te beheer.
Instagram het Maandag op ʼn lys van “beperkte aanlyn bronne” verskyn wat deur die Russiese mediareguleerder gepubliseer is.
Facebook en Instagram word wyd in Rusland gebruik, met Instagram wat die gewildste sosialemediaplatform onder jong Russe is. Instagram is ook vir baie klein Russiese ondernemings ʼn sleutelplatform vir bemarking, verkope en kommunikasie met kliënte.
Meta het Vrydag gesê dat die tydelike verandering in sy haatspraakbeleid in die nadraai van Rusland se inval op 24 Februarie, slegs op Oekraïne van toepassing is.
Sy platforms sal nou stellings soos “dood van Russiese indringers” toelaat, maar nie geloofwaardige dreigemente teen burgerlikes nie. Die maatskappy meen dit sal verkeerd wees om te verhoed dat Oekraïners “hul weerstand en woede teen die invallende militêre magte uitspreek”.
Dié besluit het ʼn herrie in Rusland ontketen, waarna owerhede ʼn strafregtelike ondersoek teen Meta van stapel gestuur het. Aanklaers het die hof Vrydag gevra om die Amerikaanse tegnologiereus as ʼn “ekstremistiese organisasie” te klassifiseer. Maroela Media het vroeër berig dat Meta se besluit ook deur die Verenigde Nasies (VN) gekritiseer is, aangesien dit tot haatspraak teen Russe kan lei.
Bronne: AFP / CNN
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
7 Kommentare
Een van die negatiewe van ‘n kommunistiese regering. Mense het geen regte of vryheid van spraak nie en jy word goed dopgehou. Heerlik.
Rusland is besig om weer baie vinnig daai Ystergordyntjie toe te trek.
Ek wonder of al daardie Rusiese Insta-modelle op Ram-vir-‘n-Rus nou opnuut na Suid Afrika wil trek.
Goed so . Nou kan hulle terugkeer na realiteit .
Op n ander noot – Gaan daar nog n diens wees waar mens n Bruid kan bestel vanaf Rusland? Of n bruidegom dalk… ek vra vir n vriend(ekring)!!