Geen koper vir Asterix-voorblad nie

Die tekening deur Franse tekenprentkunstenaar Albert Uderzo vir die oorspronklike “Astérix et Cléopâtre” die dag voor dit deur Millon-afslaers in Brussel te koop aangebied is (Foto: John Thys/AFP)

ʼn Oorspronklike voorbladskildery van die 1963 strokiesprent Astérix et Cléopâtre het Sondag onder die hamer gekom, maar daar was geen koper nie ná ʼn regstryd van die kunstenaar se dogter. Die waterverfskildery, met die antieke heerser van Egipte en die twee Galliese helde, Asterix en Obelix, sou deur die Brusselse afslaers Millon verkoop word.

Die kunswerk, van 32 cm by 17 cm groot, sou na verwagting tussen €400 000 tot €500 000 (sowat R8,2 miljoen tot R10 miljoen) gehaal het, maar daar was nie enige aanbieding wat die reserweprys gehaal het nie. Dit is toe nie verkoop nie.

Arnaud de Partz, direkteur-generaal van Millon, het aan AFP gesê kopers is moontlik afgeskrik deur die regsklagte van die dogter van die oorlede Franse illustreerder Albert Uderzo.

Sylvie Uderzo het aangevoer dat, indien haar pa die skildery weggegee het, sou hy dit onderteken en aan iemand toegewys het. Die skildery is dus volgens haar gesteel.

Millon het gesê hy verkoop die werk namens die seun van ʼn man wat die meer as 50 jaar gelede van Uderzo, die medeskepper van die Asterix-reeks ontvang het. Uderzo is in 2020 oorlede.

Sylvie het op 27 November ʼn klag by Belgiese staatsaanklaers ingedien, maar volgens ʼn brief wat AFP gesien het, was daar geen gronde om te vermoed dat ʼn misdaad gepleeg is nie. Haar prokureur, Orly Rezlan, het gewaarsku dat enige koper van die skildery vervolg kan word oor die ontvangs van gesteelde goedere – ʼn bewering wat die afslaers verwerp.

“In sy leeftyd het Albert Uderzo in die openbaar gesê dat hy die verkope van enige kunswerk sal teenstaan wat nie sy toewydingsboodskap bevat nie,” het Rezlan verlede week aangevoer.

Uderzo, het sy bygevoeg, het altyd oor sy oorspronklike plate, sonder toewydingsboodskappe, gesê indien iemand dit vir hom bring, sal hy die werk aan hulle toewy.

Afslaers Millon het egter aangevoer daar was al talle werke deur Uderzo wat vroeër op publieke veilings verskyn het wat nie enige boodskappe bevat het nie.

Die afslaers het ook ʼn foto aan die hof voorgehou waar ʼn man, glo die eienaar van die betrokke kunswerk, saam met Uderzo en sy vrou aan tafel sit by ʼn hotel in Normandië in die laat 1960’s.

“Ons het die foto aan Sylvie Uderzo gewys as bewys dat die verkoper se pa haar pa goed geken het,” het De Partz gesê.

Die storie Astérix et Cléopâtre het as ʼn reeks in die tydskrif Pilote in 1963 verskyn. Dit is in 1965 as die sesde boeklange avontuur in die reeks gepubliseer.

Die plakkaat vir “Cleopatra” met Elizabeth Taylor, Richard Burton en Rex Harrison (Foto via IMDb)

Die voorblad is ʼn parodie van die plakkaat vir die 1963-Hollywood-fliek Cleopatra met Elizabeth Taylor in die hoofrol. Asterix verteenwoordig Rex Harrison se vertolking van Julius Caesar en Obelix vir Richard Burton se Marc Antony.

Kuns uit die oorspronklike weergawes van die geliefde Franse en Belgiese strokiesprentsuksesse soos Asterix of Tintin het die afgelope paar jaar welgestelde versamelaars en beleggers gelok.

Die oorspronklike 1942-voorblad van Tintin en Amérique deur België se Herge is in Februarie vir €2,16 miljoen (byna R44,5 miljoen) verkoop.

Die boedels van die oorlede strokiesprentouteurs en illustreerders bewaak egter baie streng die regte op dié internasionale handelsmerke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.