Geen meer buitelandse skenkings vir Moeder Teresa-organisasie

Moeder Theresa hou ʼn armlose baba vas in Kolkata, Indië (1978) Foto: AP Photo/Eddie Adams

ʼn Liefdadigheidsorganisasie wat meer as 70 jaar gelede deur Moeder Teresa in Indië gestig is, mag nou nie meer finansiering uit die buiteland ontvang nie, het dié land se departement van binnelandse sake op Kersdag aangekondig.

Kritici bestempel dit egter as ʼn verdere bewys dat die Hindoe- nasionalistiese regering Christene in die land teister.

The Missionaries of Charity is in 1950 deur die ontslape Moeder Teresa op die been gebring. Sy was ʼn Katolieke non wat die grootste deel van haar lewe daaraan gewy het om die armes in die stad Kolkata te help. Moeder Teresa het die Nobelprys vir vrede gewen en is later tot ʼn heilige verklaar.

Haar organisasie bestuur skuilings oor Indië heen en het in die 2020-’21-boekjaar sowat $750 miljoen in buitelandse skenkings ontvang.

Die departement het egter nou die welsynsorganisasie se aansoek om hernuwing van die permit om finansiering uit die buiteland te ontvang, geweier.

Volgens die departement voldoen die organisasie nie aan bepaalde voorwaardes vir die hernuwing van die permit nie en is sekere probleme in die organisasie opgemerk.

Die departement het egter nie meer besonderhede verskaf oor wat die probleme behels nie.

Die aankondiging volg net twee weke nadat die polisie in Gujarat ʼn ondersoek na die organisasie se beweerde “gedwonge bekering” van Hindoes na Christene van stapel gestuur het. Hierdie beskuldiging word glo gereeld deur geharde lede van Indië se meerderheidsgodsdiens gemaak.

Dominic Gomes, vikaris-generaal van die aartsbisdom van Kalkutta, sê die aankondiging is “ʼn wrede Kersgeskenk aan die armstes van die armes”.

Aktiviste meen ook nou dat godsdiensminderhede in Indië geweldige diskriminasie en geweld ondervind sedert die Hindoe- nasionalistiese Bharatiya Janata Party (BJP) in 2014 aan bewind gekom het.

Die Amerikaanse Kommissie vir Internasionale Godsdiensvryheid het Indië verlede jaar vir die eerste keer sedert 2004 as ʼn land gelys wat kommer oor godsdiensvryheid wek.

Die regering het al menigmaal bewerings verwerp dat die party ʼn radikale Hindoe-hegemonie-agenda dryf en dring daarop aan dat mense van alle godsdienste gelyke regte het.

Indië se regering het egter die afgelope paar jaar geweldige druk op nie-regeringsorganisasies wat buitelandse befondsing ontvang, waaronder menseregtegroepe, verhoog.

Die Missionaries of Charity het intussen gesê hy het al sy sentrums opdrag gegee om geen buitelandse valuta-rekening te gebruik “totdat die saak opgelos is” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.