Geen oorlewendes ná vliegtuig val

Familielede van die slagoffers wag by die Bole-lughawe in Addis Abeba, Ethiopië vir nuus oor die vliegtuigongeluk wat al 157 mense aan boord se lewens geëis het. (Foto: Elias Masseret/AP)

Al 157 mense wat aan boord ʼn vlug van Ethiopian Airlines was toe die vliegtuig vanoggend omstreeks 08:44 geval het, is dood.

Die lugredery en staatsuitsaaier het albei bevestig nie een van die 149 passasiers en agt bemanningslede aan boord die Boeing 737-8 MAX-vliegtuig het die ramp oorleef nie.

Dit is steeds nie duidelik wat daartoe gelei het dat die vliegtuig, wat byna splinternuut was en in November verlede jaar aan die lugredery gelewer is, geval het nie.

Maroela Media het vroeër berig die vliegtuig het geval ses minute nadat dit in Addis Abeba opgestyg het. Die vliegtuig het naby Bishoftu, voorheen Debre‑Zeit, geval sowat 50 km van die Ethiopiese hoofstad af. Die vliegtuig was op pad na Nairobi.

ʼn Argieffoto van die Bole-lughawe in Addis Abeba, Ethiopië. (Foto: Samson Haileyesus/AP)

Volgens die lugverkeermonitor-webtuiste, Flightradar 24, het die vliegtuig onstabiele vertikale spoed getoon toe dit opgestyg het. Die sigbaarheid was egter goed.

Volgens die staatsuitsaaier EBC was passasiers van 33 verskillende nasionaliteite op die vliegtuig. ʼn Woordvoerder van Ethiopian Airlines het gesê 32 Keniane en 17 Ethiopiërs het in die ongeluk gesterf. Dit is nie tans duidelik of enige Suid-Afrikaners op die vlug was nie.

Familielede van die slagoffers is tans by die Bole-lughawe in Addis Abeba bymekaar waar hulle op verdere nuus wag.

James Macharia, Kenia se minister van vervoer, het aan verslaggewers gesê dié land se regering het nog nie ʼn lys van die passasiers ontvang nie. Hy het gesê ʼn ondersteuningspan is reeds op die been gebring om naasbestaandes van die oorledenes te ondersteun.

Familielede van die slagoffers wag by die Bole-lughawe in Addis Abeba, Ethiopië vir nuus oor die vliegtuigongeluk wat al 157 mense aan boord se lewens geëis het. (Foto: Elias Masseret/AP)

Pres. Uhuru Kenyatta van Kenia het ook sy medelye aan al die familie en vriende van die slagoffers uitgespreek.

Ethiopian Airlines word wyd gereken as een van die bes bestuurde lugrederye in Afrika. Die lugredery bestempel homself as Afrika se grootste lugredery en hoop om gesien te word as die poort na die kontinent.

Die laaste dodelike ongeluk waarby ʼn Ethiopian Airlines-passasiersvliegtuig betrokke was, was in 2010 toe die vliegtuig geval het minute nadat dit in Beirut, Libanon, opgestyg het. Al 90 mense aan boord is dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

willie ·

Een van die beter rederye, 6 minute na opstyging geen kans vir oorlewing! Baie hartseer!

Jc ·

Dit is eers berig dat dit ‘n 737 is wat in die ongeluk betrokke was nou is dit ‘n nuwe 787 wat geval het. Die soveelste een wat die laaste paar maande geval het. Boeing en lugvaart sal dringend daarna moet kyk. Iets sê vir my dat ek eers moet vra in watse vliegtuig ek gaan klim voor ek vlieg en dit sal nie in ‘n 787 wees nie al is die vliegtuig hoe nuut.

Mariné Lourens ·

Dagsê Jc

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Dit was ‘n Boeing 737-8 MAX-vliegtuig wat geval het. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Marish ·

Geagte Koos,
Jou kommentaar is onvanpas. Dis nie nodig om lelik te wees en joernaliste persoonlik aan te vat nie. Mariné is ‘n baie goeie joernalis! Ek haal my hoed vir haar af!

Dankie aan Maroela Media wat altyd bereid is om na hulle lesers te luister!

Elize ·

Koos, jy kry die nuus verniet. Niemand dwing jou om die maroela app te gebruik nie. Miskien moet jy bykom en die app delete as dit jou dan soooo ontstel.

Michael von Mallinckrodt ·

Koos, as jy beter kan doen gaan werk vir Maroela Nuus. Hulle is ook maar net mens wat op berigte reageer en dit dan hier plaas. Ten minste word dit reggestel en Maroela Nuus waardeer dit. As jy ´n koerant koop sal hulle dit hoogswaarskynlik eers die folgende dag regstel sonder eenige waardeering.

Johan ·

Nog n Max wat geval het. Lyk my dit is n probleem vliegtuig. Kukula wil ook van die soort loop, Hier Kom probleme.

Ellisras ·

Dit is juis nou die tyd om met hierdie refer te vlieg. Hulle het geskrik. Is wakker. Almal maak seker alles loop reg. En dit is byna nooit dat ‘n redery 2 ongelukke in ‘n ry het.
Veilig vlieg

Of Nie ·

Ek het ook so geredeneer, maar Malaysia Airlines het vlug 370 verdwyn en 3maande later is vlug 17 afgeskiet. ..so twee groot verliese in 3maande

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.