Al tien mense aan boord die Keniaanse vliegtuig wat se wrak opgespoor is nadat dit Dinsdagaand vermis geraak het, is dood.
Die wrak van die Fly-SAX-vliegtuig, wat op pad was na Nairobi, Kenia se hoofstad, is Donderdagoggend in die Aberdare Nasionale Park, noord van Nairobi, opgespoor.
Charles Wako, Fly-SAX se voorsitter, het Donderdagmiddag by die Weston-hotel in Nairobi bevestig dat soek-en-reddingspanne by die wrak uitgekom het en dat daar geen oorlewendes is nie.
Die vlieëniers is as Barbra Wangeci Kamau, die kaptein, en Jean Mureithi, mede-vlieënier, geïdentifiseer.
Maroela Media het vroeër berig die Cessna C208-vliegtuig met die registrasienommer 5Y-CAC het Dinsdag omstreeks 16:00 by Kitale opgestyg en sou ongeveer ʼn uur later in die hoofstad aankom. Buiten die vlieëniers, was daar agt passasiers aan boord van die vliegtuig.
Die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.
Wreckage of missing plane spotted south west of Aberdare forest https://t.co/7befEJJMsC pic.twitter.com/vILlYZ9C6Z
— The Star, Kenya (@TheStarKenya) June 7, 2018