Geen oorsese toeskouers by Spele toegelaat

Argieffoto (Eugene Hoshiko, AP)

Geen buitelandse toeskouers sal weens die Covid-19-pandemie by vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio toegelaat word nie.

Dít nadat die organiseerders aanvanklik beplan het om 630 000 kaartjies vir die Olimpiese Spele en Paralimpiese Spele aan oorsese toeskouers te verkoop.

Organiseerders het Saterdag gesê hoewel die besluit teleurstellend is, is dit “onvermydelik”.

Vanjaar se Olimpiese Spele sal dus die eerste in die geskiedenis sonder buitelandse toeskouers wees. Die Spele in Tokio sal na verwagting grootliks ’n uitgesaaide geleentheid wees.

Die Olimpiese reëlingskomitee het in ʼn verklaring ná samesprekings tussen plaaslike organiseerders, Japanse amptenare en Olimpiese en Paralimpiese hoofde gesê die Olimpiese Spele bly ’n uitdaging weens die Covid-19-situasie in Japan sowel as die buiteland.

Luidens die verklaring is dit “hoogs onwaarskynlik” dat Japan teen die noordelike somer toegang vir buitelandse besoekers kan waarborg en daarom is die verbod op oorsese toeskouers nodig.

Seiko Hashimoto, president van die Olimpiese reëlingskomitee, erken die besluit was nie maklik nie.

“Ek was self ʼn atleet. Ek het ʼn paar keer die voorreg gehad om aan die Olimpiese Spele deel te neem. Die feit dat toeskouers uit die buiteland nie die Spele  kan bywoon nie, is baie teleurstellend.

“Ons moet [egter] ʼn veilige omgewing vir al die deelnemers verseker. Dit was ʼn onvermydelike besluit.”

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en die Internasionale Paralimpiese Komitee het hul teleurstelling oor die verbod uitgespreek, maar gesê dat hulle die besluit “ten volle respekteer en aanvaar”.

Volgens die komitees sal alle kaartjies vir die Spele wat reeds deur oorsese toeskouers gekoop is, terugbetaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Moontlik is dit die manier waarop die Spele in die toekoms moet plaasvind: Vind ‘n permanente tuiste vir die spele, dalk ‘n afgesonderde eiland waar veiligheid verseker word en elke soveel jaar die beste sport en deelnemers ten toon gestel kan word. Beeldsend die verrigtinge gratis regoor die wèreld aan almal. So kan kostes gesny en onregverdige bevoordeling verhoed word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.