‘Geen SA’ners op vliegtuig wat neerstort’

ʼn Argieffoto van ʼn Lion Air-passasiervliegtuig by die Juanda Internasionale Lugahwe in Surabaya, Indonesië (12 Mei 2012). Foto: AP Photo/Trisnadi

Die Suid-Afrikaanse regering het Maandag ʼn boodskap van medelye aan die regering en mense van Indonesië gestuur na aanleiding van die Lion Air-vliegtuig wat met 189 mense aan boord in die see geval het.

Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het gesê die regering wens veral die families wat deur die tragedie geraak word sterkte toe in hul tyd van rou.

Volgens Mabaya is aanduidings in die stadium dat geen Suid-Afrikaners op die Boeing 737 was toe dit neergestort het minute nadat dit in die Indonisiese hoofstad, Jakarta, opgestyg het nie.

“Die Suid-Afrikaanse ambassade in Jakarta het die passasiermanifes vir die betrokke vlug bekom en gegrond op dié manifes, is aanduidings dat daar nie Suid-Afrikaanse burgers aan boord die Lion Air‑vlug JT 610 was nie,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig puin, lewensreddingsbaadjies en ʼn selfoon is in die water gevind naby die kus van Java waar beamptes glo die vliegtuig neergestort het. Owerhede moet nog bepaal wat veroorsaak het dat die vliegtuig neergestort het 13 minute nadat dit opgestyg het.

BBC berig teen Maandagmiddag het reddingswerkers liggame uit die water gebring. Daar is tans geen teken van enige oorlewendes nie, maar die hoofwrakstuk is nog nie gevind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Herman ·

Vliegongelukke – ek dink altyd aan die mense se laaste minute voor die einde – dit moet verskriklik wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.