‘Geen-selfie’-sones gevra ná honderde sterf

Argieffoto (Foto: Pasja1000, Pixabay)

Die getal sterftes wêreldwyd is só hoog dat wetenskaplikes voorgestel het dat toegewyde “geen-selfie-sones” ingestel moet word.

ʼn Nuwe studie het bevind dat altesaam 259 persone tussen 2011 en 2017 wêreldwyd op verskillende maniere gesterf het terwyl hulle selfies wou neem.

Die studie is gepubliseer in die Journal of Family Medicine and Primary Care en het ondersoek ingestel hoeveel sosialemediagebruikers al gesterf het terwyl hulle die perfekte skoot wou kry.

Die studie, onder leiding van dr. Agam Bansal by die Indiese Instituut vir Mediese Wetenskap, het nuusberigte tussen Oktober 2011 en November 2017 geanaliseer en bevind daar is berig oor minstens 259 sterftes, wat in die studie “selficides” genoem word.

Van die sterftes het internasionaal ook aandag getrek. In Kanada is drie sosialemediagebruikers vanjaar dood toe hulle in ʼn rivier in geval en oor ʼn waterval meegesleur is. Daar is ook verskeie berigte van persone wat ʼn selfie geneem het sekondes voor hulle na hul dood geval het. Die studie maak dit duidelik dat dit nie ʼn klein probleem is nie en dat daar beslis meer mense wêreldwyd wat dood is toe hulle ʼn selfie wou neem as net die 259 waaroor daar berig is.

“Dit is nog net die oortjies van die seekoei,” lui ʼn deel van die studie. “Daar word oor talle gevalle nie berig nie.”

Die navorsers het die 259 sterftes geografies uiteengesit. Meeste selfie-verwante sterftes is in Indië (50%) aangemeld gevolg deur Rusland, die VSA en Pakistan. Die gemiddelde ouderdom van die persone is 22.94 jaar oud. Net meer as driekwart van diegene wat gesterf het toe hulle selfies wou neem, is mans.

Die topdrie oorsake van sterftes was mense wat verdrink het, deur ʼn voertuig getref is of geval het. Wat betref voertuigverwante sterftes was dit gewoonlik iemand wat die perfekte foto wou kry voor ʼn aankomende trein.

Die navorsers stel voor dat “geen-selfie-sones” in gevaarlike gebiede geïmplementeer moet word. “Selfies is nie skadelik nie, maar die gedrag wat daarmee gepaard gaan, is gevaarlik. Individue moet opgelei word oor gevaarlike optrede en gevaarlike plekke waar selfies verbied word,” lui die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

marous ·

Vra ‘n vriend ….gaan nog agtertoe , nog ,nog , nog ….kaplaks

Casper Labuschagne ·

Post Darwinisme in aksie: Dit was nog altyd in biologie die oorlewing van die sterkes gewees, maar nadat selfies uitgevind is sterf die sterkes sodat die swakkeres sonder die nuutste slimfone kan oorleef.

Stupid ·

Klink asof ander mense nou vir die mense moet begin dink? Dis omdat mense nie die verantwoordelikheid van hulle dade kan vooruitskat/sien nie dat sulke goed gebeur. Ons sit dan eenkeer by ‘n afgrond en staar na die see terwyl ‘n clown probeer om ‘n HAND STAND op die punt van die afgrond te maak??? Sy vriende en vriendinnetjie cheer hom aan ??

ZAR ·

Jou eerste sin is die mees belangrikste wat almal moet weet. Daar moet opgehou word om wette te maak wat vir ander mense dink… daar kom altyd meer sleg as goed daarvan, want dit word uit verband uitgeruk. ‘n Bordjie wat sê dis gevaarlik en selfies word afgeraai behoort genoeg te wees. Stupid is as stupid does. (Een van die dae word mense hof toe gevat oordat hulle karre nie vooraan ‘n bordjie het wat aandui dat dit gevaarlik is om voor die kar in te hardloop)

Anita ·

Wonder waarop konsentreer vrou wat met haar foon in die een hand sit en met haar ander hand op die motorstuurwiel terwyl sy om ‘n mini sirkel ry.
Of die een waarvoor mens by ‘n robot moet toeter druk omdat sy eenvoudig só besig geraak met haar foon dat sy bly staan nadat dit lankal na groen oorgeslaan het.
Dit word seker nie selfies genoem nie, maar SA padslagting.

Cherokee ·

Of as ‘n ou ‘n selfie van homself en sy girl neem en sy vrou vind dit.

Liendempers ·

Mmm, daar is nou vir jou n probleem? maar ek stem, natuurlike seleksie aant werk. Sommige toestande het nie pille nie.

Cleva ·

Daar is wel pille vir “sommige toestande”: Ritalin of Concerta.

marco polo ·

Hier in China waar wk bly, ry hulle met elektriese motorfietse, een hand op die stuur, die ander hand met n selfoon, besig om n boodskap te tik. Ek het geen simpatie wanneer sulke mense hulle alies sien nie, en dit gebeur gereeld.

Essa ·

Ek wonder nog of Cleva se rondgooi van handelsname van medikasie nie onverskillig is nie, aangesien met inagneming van die kommentare die indruk geskep word dat “dom” mense hierdie pille gebruik. En dis tog ‘n baie bevooroordeelde mening?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.