Geen sigarette vir dié jonger as 21 in Ierland

Argieffoto (Foto: Nabil Maaizi / Pixabay)

Ierland is van voornemens om die wettige minimumouderdom vir persone wat tabak koop, te verhoog na 21, aldus ʼn wetsontwerp wat Dinsdag aangekondig is. Dit is die hoogste ouderdomsbeperking in die Europese Unie.

Staatsamptenare het gesê die voorgestelde wetgewing, om die ouderdomsbeperking van die huidige 18 jaar te verhoog is reeds deur die kabinet goedgekeur. Dit het ten doel om Ierland se rookkoers onder volwassenes verder te verminder.

Letland het reeds wetgewing ingestel wat die minimumouderdom na 20 sal verhoog in 2025. In meeste EU-lande is die ouderdomsbeperking om tabak- of alkoholprodukte te koop 18 jaar. Dit is 21 vir albei in die VSA.

Ierland het in 2004 die eerste EU-lid geword wat ʼn binnenshuise rookverbod ingestel het. Talle lande het daarna met dieselfde verbod gevolg.

Sowat 18% van die bevolking ouer as 15 is tans rokers, het die land se departement van gesondheid gesê.

Volgens Stephen Donnelly, Ierse minister van gesondheid, wat die maatreël aangekondig het, is daar bewyse dat die verhoogde ouderdom “die sosiale bron van sigarette vir jongmense beperk”. “Hulle sal minder waarskynlik in sosiale groepe verkeer saam met mense wat wettig sigarette kan aankoop.”

Donnelly sê daar is ook bewyse dat mense tussen 18 en 21 jaar oud ʼn hoë gevaar loop om rokers te word.

Die wetsontwerp sal voorsiening maak daarvoor dat die uitgebreide verbod nie van toepassing is op diegene wat tans tussen 18 en 21 jaar oud is nie.

Dit sal ook nie ʼn impak hê op die minimumouderdom vir die verkope van damprooktoestelle nie, wat verlede Desember op 18 jaar vasgestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cassie Carstens ·

Goeie idee, maar gaan dit hier werk? Ek glo nie, want hier is geen wetstoepassers nie.

Niklaas ·

Nee , vergeet dit. Watter jong roker gaan hom hieraan steur ? Groot strawwe soos tronkseltyd mag dalks dien as afskrikmiddel , maar sien is glo

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.