Geen teken van fetus by ‘dragtige’ panda

Mei Xiang smul aan ‘n peuselhappie in die Smithsonian- nasionale dieretuin in Washington DC. Dié foto is in Februarie 2019 geneem. (Foto: Washington Post foto deur Jonathan Newton)

Mei Xiang, die wêreldbekende panda by die Smithsonian- nasionale dieretuin in Washington DC in Amerika, was toe nooit dragtig nie ten spyte daarvan dat sy al die tekens getoon het.

Die Smithsonian- nasionale dieretuin het Woensdag aangekondig Mei Xiang sal nie vanjaar geboorte gee nie.

Dit volg nadat Mei Xiang (21) in Maart vanjaar kunsmatig bevrug is en kort daarna tekens begin toon het dat sy dragtig is. Dieretuinbeamptes het in Julie gesê haar urienprogesteroon-vlakke het gestyg en daarop gedui dat sy binne ses tot agt weke in die finale stadium van dragtigheid sal ingaan of selfs al begin kraam.

In Augustus het dieretuinbewaarders opgemerk Mei Xiang se gedrag begin verander soos ʼn dragtige panda s’n gewoonlik doen. Sy het sensitief geraak vir klank wat daartoe gelei het dat bewaarders die terrein waar sy bly vir die publiek gesluit het. Skanderings is daarna ʼn paar keer per week gedoen om te kyk vir veranderinge in haar baarmoeder.

Maar daar was nooit enige teken van ʼn fetus nie. Mei Xiang se hormoonvlakke het begin herstel en haar gedrag het teruggekeer na normaal. “Mei Xiang se nesskop-gedrag sal afneem en bewaarders verwag sy sal binne die volgende paar weke haar normale gedrag hervat,” het die dieretuin gesê.

Mei Xiang. (Foto: Ting Shen/Xinhua)

Maroela Media het vroeër berig dat Mei Xiang in Augustus 2015 die lewe geskenk het aan ʼn panda-tweeling. Een van die welpies is egter dae later dood. Die oorlewende welpie, Bei Bei, sal na verwagting in die volgende paar maande na China geskuif word.

Mei Xiang se eerste welpie, Tai Shan, wat in 2005 gebore is, bly ook in China, terwyl haar tweede welpie, Bao Bao, wat in 2013 gebore is in 2017 na China geskuif is.

Die jongste sensus (2014) deur die Chinese natuur-en-bewaringsvereniging en die Amerikaanse vissery- en natuurdienste het bevind daar is 1 864 reusepandas in die natuur en 548 pandas in aanhouding wêreldwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rohan ·

Sulke pragtige diere! En kyk net hoeveel is daar oor in die natuur :( Mens vernietig oral waar hul gaan. Ek hoop dat ons meer geboortes sal kry van dié prag diere.

Lou ·

Is daar nie ‘n Pappa beer wat kan uithelp nie. Hoekom moet dit KI wees?

Hmmmmm.... ·

pappa beer is seker aan die anderkant van die planeet…..

Chanel ·

Sjoe, Sy is pragtig. Die Here is darm wonderlik. Moet seker vir die mamma erg wees as haar kinders van haar weggeneem word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.