Geen uitspraak bereik in sokkerster se aanrandingsaak

Ryan Giggs. Foto: Lindsey Parnaby/AFP.

’n Regter in die Verenigde Koninkryk het Woensdag die jurie in die aanrandingsaak teen die voormalige Manchester United-ster Ryan Giggs (48) ontbind nadat dit ondanks dae se beraadslagings nie ’n uitspraak kon bereik nie.

Giggs word daarvan aangekla dat hy Kate Greville, die vrou met wie hy in ’n verhouding was, op 1 November 2020 aangerand het. Weens die wêreldwye Covid-19-pandemie word die saak twee jaar later eers in die Manchester Crown-hof aangehoor.

Die jurie van sewe vroue en vier mans, wat vroeër vandeesweek die geleentheid gekry het om ’n meerderheidsuitspraak te lewer, kon na beraadslaging van langer as 20 uur nie tot ’n besluit kom nie.

Die Crown Prosecution Service (CPS), wat toesig hou oor vervolgings in Engeland en Wallis, moet nou besluit of die saak ná ’n vier weke lange verhoor weer aangehoor moet word.

Giggs se prokureurs sal die openbare belang van ’n herverhoor oorweeg.

Die sokkerster het op al die aanklagtes teen hom skuld ontken.

Maroela Media het vroeër berig die paartjie was destyds glo in ’n rusie betrokke omdat Greville nie Giggs se selfoon vir hom wou teruggee nie. Sy het na boodskappe en oproepe gesoek wat daarop sou dui dat hy haar verneuk het.

Volgens Greville het dit al ’n paar keer vantevore in hul verhouding gebeur en sy was weer eens agterdogtig. Die stryery het tot ’n crescendo opgebou en Giggs het haar na bewering met die kop gestamp.

Haar suster (Emma Greville) het intussen gesê dat hy gedreig het om haar ook aan te rand.

Aanklaers beweer dat Giggs vir Greville in die gesig geslaan het toe sy probeer het om hul verhouding te beëindig.

Buiten dié gewelddadige voorval word daar ook in die hof beweer dat Giggs Greville al jare lank sielkundig geïntimideer het deur middel van isolasie, vernedering en teistering.

Die voormalige Manchester United-bestuurder Alex Ferguson was onder diegene wat in die saak getuig het, wat ook gesien het dat Giggs standpunt ingeneem het en erken het dat hy ontrou was in al sy vorige romantiese verhoudings, maar ontken het dat hy ooit gewelddadig was.

Giggs het in Junie as bestuurder van Wallis se nasionale sokkerspan bedank nadat hy sedert sy inhegtenisneming met verlof was.

Hy het gesê hy wil nie hê dat “voortgesette belangstelling in hierdie saak” die span moet beïnvloed terwyl hy voorberei vir vanjaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi in Katar nie.

Hy bly uit op borgtog tot ’n verdere verhoor in die saak op 7 September. Hy sê hy sien uit daarna om “sy naam in ere te herstel”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.