Geen verdere behandeling vir Barbara Bush

Barbara Bush, voormalige presidentsvrou (Augustus 2013) (Foto: AP Photo/Robert F. Bukaty, File)

Barbara Bush (92), vrou van die voormalige president van Amerika, George HW Bush, is baie sieklik, maar het verdere mediese behandeling van die hand gewys.

Sy is al ʼn paar keer in die hospitaal opgeneem, maar het nou besluit om eerder te fokus op sorg wat haar gemaklik sal hou, as bykomende behandeling, het Jim McGrath, woordvoerder vir die familie, in ʼn verklaring gesê.

Barbara word al dekades lank vir Grave se siekte, wat die skildklier aantas, behandel. Sy het ook ʼn hartoperasie in 2009 ondergaan.

Barbara en George HW Bush het in 2017 by die Super Bowl ʼn staande toejuiging ontvang nadat hulle albei uit ʼn Houston-hospitaal ontslaan is vir verskillende redes. Barbara het in daardie stadium bronchitis gehad. Sy het in Oktober ʼn konsert by Texas A&M-universiteit bygewoon om geld in te samel vir orkaanverligting.

“Dit sal geen verrassing wees nie vir diegene wat Barbara Bush ken – sy is ʼn rots in die lig van haar gesondheid wat agteruit gaan, sy is nie oor haarself bekommerd nie, danksy haar onwrikbare geloof; sy is eerder oor ander bekommerd,” lui die verklaring. “Sy is omring deur die mense wat haar liefhet en sy waardeer al die boodskappe en gebede.”

Barbara, tuis in Houston, is een van slegs twee presidentsvroue wat ook die ma van ʼn president is. Die ander was Abigail Adams, vrou van John Adams, die land se tweede president, en ma van John Quincy Adams, die sesde president.

Barbara en George HW is op 6 Januarie 1945 getroud. Hulle het ses kinders.

George HW (93) het Parkinson se siekte.

Pres. George HW Bush en sy vrou Barbara (Maart 2015) (Foto: AP Photo/David J. Phillip, File)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Baby ·

Baie hartseer. Maar hulle het diep spore getrap en ‘n verskil gemaak. Vol lewens gelei.
Stylvol tot die einde. Vat dit nou kalm en wees rustig in die teenwoordigheid van jou geliefdes.

Oom Kalahari ·

Wat ‘n mylpaal om vir 73jaar gesamentlik te wees en deur die Hemelse Vader vir mekaar gespaar te bly op so hoe ouderdom. Hul het werklik diep spore getrap vir die Amerikaanse publiek tydens hul Presidentskap. Wens jul alle gesondheid en sterkte toe en mag jul nog lank saam geseen wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.