Geen vuilspel vermoed in Shane Warne se afsterwe

Hulde word gebring aan Shane Warne by sy standbeeld by die Melbourne-krieketstadion (5 Maart 2022) (Foto: William West/AFP)

Die polisie in Thailand het Saterdag bevestig dat vuilspel nie vermoed word in die afsterwe van die krieketlegende Shane Warne nie. Die 52-jarige Warne het vermoedelik ʼn hartaanval gehad terwyl hy met vakansie was in Koh Samui.

Eerste ministers, rocksterre en medespelers het huldeblyke laat instroom ná die bybreek-bouler se afsterwe.

Warne was een van die beste toets-krieketspelers van alle tye. Hy is Vrydagaand bewusteloos aangetref in ʼn luukse villa by die Samujana-oord. Hy sou na verwagting vriende ontmoet het. Hulle het na hom begin soek toe hy nie opgedaag het nie.

“Ondanks die beste pogings deur paramedici kon hy nie bygebring word nie,” lui ʼn verklaring van sy bestuursagentskap.

Sy liggaam is na die Thai International Hospital Samui geneem.

“Geen vuilspel word vermoed nie,” het Thai-polisie aan AFP gesê.

In Australië het aanhangers blomme by die Melbourne-krieketstadion gaan lê, waar ʼn standbeeld vir Warne opgerig is. ʼn Blikkie bier, ʼn pakkie sigarette en ʼn vleispasteitjie is van die offers wat neergelê is, as huldeblyk aan Warne se berugte leefstyl en ongesonde dieet.

Eerste minister Scott Morrison het Warne beskryf as “een van ons land se beste karakters” en aangekondig ʼn volledige staatsbegrafnis sal gehou word.

Warne en sy Australiese spanmaat Mark Waugh is beboet ná hulle geld van ʼn beroepswedder ontvang het. Warne is vir 12 maande geskors toe hy nie ʼn toets vir verbode middels geslaag het nie, op die vooraand van die 2003 Wêreldbeker in Suid-Afrika.

Hy het in 2007 uitgetree as krieketspeler vir Australië. Hy het aan 145 toetse in sy 15 jaar lange loopbaan deelgeneem en 708 paaltjies geneem.

Hy en sy vrou Simone Callahan was geskei. Hulle het drie kinders gehad. Hy was ook in ʼn romantiese verhouding met die Britse aktrise Liz Hurley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.