Geestelik versteurde pa slaan seun met krieketkolf dood

Luke Batty (11)

Luke Batty (11)

Die polisie van die dorp Tyabb in Australië het Vrydag bevestig dat ʼn pa wat sy 11-jarige seun tydens ʼn krieketoefening voor omstanders, waaronder kinders, met ʼn krieketkolf doodgeslaan het, al weke gelede in hegtenis geneem moes word en dat die man aan ʼn geestelike versteuring ly.

Die seun, Luke Batty, se pa, Greg Anderson (54), het hom aangeval nadat hy Woensdagaand saam met sy junior krieketspan geoefen het. Batty het noodlottige kopbeserings opgedoen en is op die toneel dood. Die polisie is na die krieketveld ontbied en het Anderson, wat met ʼn mes gewapen was, daar aangetref. Die polisie kon die verwilderde Anderson nie onder beheer kry nie en het hom in die bors geskiet. Hy het later in die hospitaal aan sy skietwond beswyk. Die seun se ma, Rosie, het die voorval aanskou en is erg getraumatiseer. Tyabb is sowat 100 km suidoos van Melbourne. Sowat 3 300 inwoners bly in die gemeenskap.

Die polisie het Vrydag bevestig dat daar vyf lasbriewe vir Anderson se inhegtenisname uitgereik was.

Ken Lay, die kommissaris van die Victoria-staat se polisie, het gesê Anderson is op 27 Januarie deur polisiebeamptes ondervra weens ʼn beweerde aanranding, maar hulle was nie bewus dat daar lasbriewe vir hom uitgereik is nie. Lay het ʼn uitgedateerde rekenaardatabasis vir die oorsig blameer.

“Ek blameer nie net ʼn rekenaarstelsel vir die dood van ʼn jong seun nie, dit is slegs ʼn deel van ʼn baie ingewikkelde saak,” het Lay gesê.

Volgens berigte was Anderson en Rosie van mekaar vervreem. Rosie het ʼn beskermingsbevel teen hom gehad, maar die bevel het hom toegelaat om hul seun tydens krieketoefeninge te sien. Sy het die beskermingsbevel teen hom bekom weens sy geestelike versteuring en gevolglik vir haar en haar seun se veiligheid gevrees het. Rosie het na die voorval tydens ʼn radio-onderhoud gesê ʼn onskuldige seuntjie is dood weens die selfsugtige dade van sy pa wat wou sterf en hul kind saam met hom wou neem.

Lay het gesê hulle is besig met ʼn ondersoek om te bepaal hoe die polisie die hele saak hanteer het.

– SAPA-AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.