Geheime dokumente oor 9/11 moet bekend gemaak word

Die aanval op die Wêreldhandelsentrum in New York op 11 September 2001. (Foto: Getty Images via AFP)

Pres. Joe Biden van Amerika het Vrydag beveel dat geheime dokumente oor die regering se ondersoek na die terreuraanvalle van 11 September 2001 oor die volgende ses maande openbaar gemaak moet word.

Biden het reageer op druk van sommige families van die nagenoeg 3 000 mense wat op daardie dag in ʼn terreuraanval deur Al Kaïda dood is.

Hulle voer lank reeds aan dat die geklassifiseerde dokumente moontlike bewyse bevat dat die regering van Saoedi-Arabië, ʼn noue bondgenoot van die VSA, bande gehad het met die kapers wat teen die Wêreldhandelsentrum en die Pentagon vasgevlieg het.

“Ek het vandag ʼn uitvoerende bevel onderteken wat die departement van justisie en ander betrokke agentskappe opdrag gee om toe te sien dat dokumente wat verband hou met die FBI se 11 September-ondersoek openbaar gemaak word,” het Biden in ʼn verklaring gesê.

Dit moet oor die volgende ses maande gedoen word.

“Ons moet nooit die voortgesette pyn van die families en geliefdes van die 2 977 onskuldige mense wat in die ergste terreuraanval ooit op Amerika en in ons geskiedenis plaasgevind het, vergeet nie,” sê Biden.

Die 20-jaar-herdenking van die aanvalle vind later vandeesmaand plaas. Dit het die destydse president, George W Bush, aangevuur om opdrag te gee dat Afghanistan binnegeval word waar die Taliban aan Al Kaïda se leierskap skuiling gegee het.

Biden het vandeesweek die laaste troepe uit Afghanistan onttrek nadat die Taliban weer beheer van Kaboel oorgeneem het.

Die vraag na omvattende inligting oor die aanvalle word aangevoor deur families wat Saoedi-Arabië dagvaar vir sy vermeende aandeel in die aanval. Die families gee al jare lank hul frustrasie te kenne oor die groot getal dokumente waartoe hulle nie toegang mag kry nie.

Die amptelike 9/11-kommissie, wat deur die kongres op die been gebring is, sê daar was “geen bewyse dat die Saoedi-regering as ʼn instelling, of senior individuele Saoedi-amptenare” daartoe bygedra het om Al Kaïda te finansier nie.

Die woordkeuse is deur sommige vertolk as dat dit kon beteken dat nie-amptelike of minder senior Saoedi-rolspelers moontlik ʼn rol gespeel het.

Sommige dokumente wat met die ondersoek verband hou, word egter steeds as te sensitief beskou om bekend gemaak te word.

Biden het in sy uitvoerende bevel gesê dit is belangrik dat die VSA deursigtig is, tensy hy weens die sterkste redes denkbaar afgeraai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jason ·

Mense wat dit n conspiracy noem vat al die blaam van die regte skuldiges weg, naamlik die gelowige ekstremiste wat die Weste haat. Sameswering teorie – denkwyse is huidiglik een van ons mense se grootste politiese (en nou ook mediese) struikelblokke en ek is bevrees dit gaan ons nog baie duur kos.

Johan ·

Interessant, ek kan nogsteeds nie verstaan hoe die geboue geval het nie, dit lyk verdag na in “inplofing”, soos n beheerder sloping. Ook nie hoe die “kapers” so akkuraat kon vlieg teen daardie spoed of hoogte nie. Hoe selfoon oproepe moontlik was op die hoogte wat dit gemaak is nie..baie goed wat eenvoudig nie sin maak nie. Sal graag wil weet wat werklik gebeur het. Sal nie verbaas wees as n paar teorieë waar word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.