Geheime saam met berugte reeksmoordenaar na graf

Die Franse reeksmoordenaar Michel Fourniret in 2006. (Foto: Fred Dufour / AFP)

Talle families se hoop op antwoorde en geregtigheid is uitgedoof nadat die berugte Franse reeksmoordenaar Michel Fourniret Maandag in die ouderdom van 79 dood is.

“Hy het glo hartprobleme gehad en aan Alzheimer se siekte gely,” sê staatsaanklaer Remy Heitz.

Fourniret, ook bekend as die Monster van die Ardenne, het erken dat hy 11 mense, meestal vroue en jong meisies, vermoor het. Hy word egter ook met ander onopgeloste sake van vermiste persone verbind.

Een van sy slagoffers was die Engelse student Joanna Parrish, wat in Mei 1990 vermoor is toe sy Frankryk as deel van haar universiteitstudie besoek het. Enkele maande voor sy inhegtenisname in België in 2003, het hy die negejarige Estelle Mouzin verkrag en vermoor. Hy het eers verlede jaar skuld op Estelle se moord beken nadat sy gewese vrou, Monique Olivier (72), in die hof getuig het.

Olivier dien tans ’n lewenslange vonnis uit vir haar rol in sommige van die moorde en ontvoerings wat deur Fourniret gepleeg is.

Talle ander families het egter voor Fourniret se dood ook op antwoorde gewag oor wat met hulle geliefdes gebeur het.

“Michael Fourniret neem sy geheime na sy graf,” sê Richard Delgene, Olivier se prokureur.

“Aangesien daar steeds baie aktiewe sake is, sal Monique [Olivier] die enigste persoon in die beskuldigdebank wees wat daarvoor aanspreeklik gehou kan word.”

Fourniret het twee lewenslange vonnisse in die Fresnes-tronk in Parys uitgedien. Hy is in ’n nabye hospitaal dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fedup ·

The hardest thing in life is not to know what happened to your loved ones or where they are.
I feel for those families who will never know.

Cherokee ·

Baardman, as diep gelowige lees ek somtyds kommentare soos diè ene van jou, en die vraag het al by my opgekom of ‘n skuldige twee keer vir dieselfde misdaad gestraf sal word. Die antwoord op daardie vraag is natuurlik kompleet gebasseer op die geestelike toestand waarin die persoon verhuis het.

Pieter J ·

Ek voel in sulke gevalle is dit geregverdig dat so ń persoon gemartel word totdat hy met die waarheid vorendag kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.