Geliefde skrywer van ‘The Message’ oorlede

Eugene H. Peterson. Foto: Wikipedia

Eugene H. Peterson, die Amerikaanse skrywer van die gewilde Bybelvertaling The Message, is Maandag in die ouderdom van 85 jaar oorlede.

Peterson het The Message: The Bible in Contemporary Language uit die oorspronklike tale in idiomatiese taal oorgesit en dit van 1993 tot 2002 stuksgewys uitgegee. Van die volledige Engelse weergawe is reeds meer as 20 miljoen eksemplare verkoop, berig Christianity Today.

“Tydens sy laaste dae was dit duidelik dat hy die dun en gewyde ruimte tussen die aarde en die hemel betree het,” het sy familie in die ʼn verklaring gesê. “Ons het gehoor hoe hy met mense gesels wat ons net kan aanvaar hom in die paradys verwelkom het,” berig Religion News.

Peterson was 29 jaar lank predikant van die Presbiteriaanse Kerk Christ Our Kind in Bel Air, Maryland in die VSA, terwyl hy meer as 30 boeke geskryf en veel gedoen het om predikante te ontwikkel.

Die geliefde predikant is op 9 Oktober in die hospitaal opgeneem waar hy vir longontsteking behandel is en goed op antibiotikum gereageer het, het Crosswalk.com berig. Daarna is hy na ʼn hospies oorgeplaas.

In ʼn onderhoud verlede jaar met Jonathan Merritt van Religion News Service het Peterson gesê hy is nie bang vir die dood nie. “Ek dink nie dis iets om te vrees nie. Ek het geen benul hoe alles sal verloop nie. Maar ek is nie bang nie. Dit kan ek jou verseker.

“Ek was al by baie mense wat sterwend was. Ek dink dit was van die beste gesprekke wat ek ooit gehad het.”

Meer as 20 miljoen eksemplare van The Message is sedert 2002 verkoop.

Peterson is gebore in East Stanwood in die Amerikaanse deelstaat Washington en het grootgeword in Kalispell, Montana. Sy B.A. in filosofie het hy verwerf aan die Seattle Pacific-universiteit, sy S.T.B. aan die New Yorkse Teologiese Seminarium en sy M.A. in Semitiese tale aan die Johns Hopkins-universiteit. Met die jare is daar ook talle eredoktorsgrade aan hom toegeken.

In 1962 was hy een van die stigters van die Presbiteriaanse Kerk Christ Our Kind, waar hy amper 30 jaar lank gedien het tot sy aftrede in 1991. Daarna was hy van 1993 tot 1998 professor in spirituele teologie aan die Regent-kollege in Vancouver, Brits-Columbië.

Al het sommige teoloë The Message gekritiseer, het miljoene mense dit gelees omdat dit die Woord vir hulle toeganklik gemaak het. Dit was dan ook Peterson se oogmerk: Om die Bybel verstaanbaar vir moderne lesers te maak

Vanweë die gewildheid van The Message het Stephan Joubert besluit om die Nuwe Testament in soortgelyke idiomatiese styl in Afrikaans oor te vertel. Dié werk is in 2002 as Die Boodskap gepubliseer.  Met Jan van der Walt se hulp is die Ou Testament in 2006 saam met verbeterings aan die Nuwe Testament uitgegee.

’n Voorbeeld van die verstaanbare taal van The Message en Die Boodskap is die bekende Johannes 1:1-2:

Die Woord, deur wie ons God leer ken, was reg aan die begin reeds daar. Die Woord was by God en die Woord was God.

Voor enigiets nog gemaak was, was Jesus al by God. Hy het alles in die skepping gemaak. Niks het op ’n ander manier ontstaan nie. Hy het alles gemaak.*

* Skrifaanhaling is geneem uit Die Boodskap © 2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elize ·

Die enigste plek waar daar vrede en geluk is het hy nou betree. Wat ‘n wonderlike vooruitsig om ook eendag daar te wees.

Johann ·

Ons kan geluk en vrede ook hier ervaar, maar het ook n sekere hoop vir later . Baie dankie aan Eugene wat die pad na “hulp” en hierdie sekere hoop so pragtig vir ons verwoord het. Ek erken dat ek hulp nodig het maar ook dat ek dit genadiglik ontvang het.

Lukie Carelsen ·

Eugene Peterson het ‘n geweldige bydrae gelewer met The Message.
Miljoene mense, ongeag die kritiek teen sy vertalings, is geseën deur sy werk.
Baie dankie Eugene, u het hierdie wêreld verlaat en ‘n skatkis vol juwele agtergelaat!

Celtis Africana ·

” Ons het gehoor hoe hy met mense gesels wat ons net kan aanvaar hom in die paradys verwelkom het.”
Ek wonder tog of hierdie vertalings en hervertalings en oor vertalings na hedendaagse idioom nie baie van die waarheid van die Woord laat verlore gaan nie en ons los met onbewysbare dogma nie?
Hierdie man se mense sinspeel duidelik uit die aanhaling dat hy hemel toe is.
Tog, ons Verlosser vertel ons heeltemal iets anders.
En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.
JOHANNES 3:13 AFR53
Die verhaal van Elia word dikwels aangehaal as bewys vir die hemeltoeganery. Dog, ongeveer 8 jaar nadat Elia ” hemel” toe is, lees ons in 2 Kronieke 21:12-15 dat hy n brief aan koning Joram van Juda stuur oor sy goddeloosheid. Elisa was toe reeds lank die nuwe profeet.
Nog n “bewys” wat voorgehou word is wat ons Verlosser vir die misdadiger aan die kruis gesê het voor Hy gesterf het:
Lukas 23:43 ” En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”
Die Grieks waaruit die Nuwe Testament vertaal is, het nie leestekens gehad nie. Daar plak hul toe die komma waar dit die dogma pas.
Met die komma korrek geplaas egter, kom die waarheid uit:
Voorwaar Ek sê vir jou vandag, jy sal saam met My in die Paradys wees.

Adam ·

Dit is vir my skreeusnaaks dat jy van ander se stellings praat as “onbewysbare dogma”, Celtis.

Die hele Christelike godsdiens – en alle ander godsdienste, is alles maar net bygelowe en onbewysbare dogma.

Ballon ·

Daar is wel mense wat begin gesels en mense sien voor hul sterf. Hy weet self van n 6 jarige kind wat sy ma gevra het wie die mense om sy bed net voordat hy gesterf het. Wie dit is, hoekom en waarom sal ons weet wanneer dit ons beurt is. Ek dink wanneer jy sterf rus jou siel iewers todat Jesus kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.