Geliefde TV-ikoon sterf

Mary Tyler Moore op 25 Mei 1964, saam met haar medester Dick van Dyke in ‘The Dick van Dyke Show’, agter die verhoog nadat hulle Emmy-toekennings as beste akteur en beste aktrise in ʼn televisiereeks gewen het. Foto: AP Photo, File

Mary Tyler Moore op 25 Mei 1964, saam met Dick van Dyke, haar medester in ‘The Dick van Dyke Show’, agter die verhoog nadat hulle Emmy-toekennings as beste akteur en beste aktrise in ʼn televisiereeks gewen het. Foto: AP Photo, File

Die Amerikaanse aktrise Mary Tyler Moore het Woensdag in die ouderdom van 80 in Connecticut gesterf.

Mara Buxbaum, Moore se publisiteitsbeampte, het die nuus bevestig. “Vandag is die geliefde ikoon, Mary Tyler Moore, in die geselskap van haar vriende en haar geliefde man van meer as 33 jaar, dr. S Robert Levine, oorlede,” het Buxbaum in ʼn verklaring gesê.

Nadat Moore bekend geraak het vir haar rol as huisvrou in The Dick Van Dyke Show van 1961 tot 1966, het sy ʼn baanbrekersrol as enkellopende vrou wat as televisievervaardiger werk van 1970 tot 1977 in die Mary Tyler Moore Show vertolk. Hierdie rol is destyds as die eerste van sy soort bestempel.

Die televisiereeks was die eerste om ʼn “beroepsvrou” as hoofkarakter te hê en ook die eerste om ʼn aansienlike aantal vroueskrywers in diens te neem. Die kulturele invloed van Moore se karakter, Mary Richards, het die tradisionele skeidingslyne tussen fiksie en realiteit laat vervaag.

Mary Tyler Moore op 31 Maart 1981 by die 53ste Academy Toekenningsgeleentheid in Los Angeles. Moore is genomineer as Beste Aktrise vir haar rol in ‘Ordinary People’. Foto: AP Photo/Randy Rasmussen, File

Mary Tyler Moore op 31 Maart 1981 by die 53ste Academy Toekenningsgeleentheid in Los Angeles. Moore is genomineer as Beste Aktrise vir haar rol in ‘Ordinary People’. Foto: AP Photo/Randy Rasmussen, File

Talle bekendes het gister Moore se dood betreur en lof uitgespreek vir haar invloed op die televisievermaakbedryf. Oprah Winfrey het Moore as ʼn rolmodel vir “al ons vroue in televisie” beskryf.

Andrea Mitchell, veteraanjoernalis vir NBC News, het Moore se dood betreur en gesê Moore het haar beroep meer beïnvloed as enige ander TV-rolmodel. Die kletsprogramaanbieder Ellen DeGeneres het gesê Moore het die wêreld vir alle vroue verander.

Moore het in haar glansryke loopbaan sewe Emmy-toekennings en ʼn Golden Globe gewen, asook die 2012 Lifetime Achievement Award van die Screen Actors Guild. Sy is ook vir ʼn Academy-toekenning genomineer vir haar rol in Ordinary People (1980).

Moore was ʼn jare lange kampvegter vir diabetes-navorsing nadat sy in haar 30’s met tipe 1-diabetes gediagnoseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet ·

Sprankelvroue? Ja, sy was beslis een van hulle. ‘n Voorbeeld van vrou wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.