Gemaskerde, gedempte Spele oorheers 2021 se volgepakte sportkalender

‘n Vrou kyk na ‘n ligvertoning by die Yokohama-stadion waar sommige van die items tydens die Olimpiese Spele na verwagting aangebied gaan word. (Foto: Philip Fong/AFP)

Die herskeduleerde Olimpiese Spele in Tokio sal na verwagting die middelpunt van ʼn volgepakte sportjaar in 2021 wees terwyl sportadministrateurs – wie se kalenders deur die Covid-19-pandemie skoongevee is – die gapings probeer vul terwyl ʼn tweede vlaag van die koronavirus heers.

Hoewel die Spele steeds die 2020 Olimpiese Spele sal heet, het Covid-19 verder alles verander.

Die Tokio-organiseerders en die Japannese regering steier onder toenemende koste en, hoewel die moontlikheid van ʼn entstof groter word, vraagstukke soos of hulle wel buitelandse besoekers moet toelaat, asook watter veiligheidsmaatreëls en beperkings vir toeskouers en deelnemers moet geld.

Vroeg in Desember het die organiseerders gesê die vertraagde Spele gaan minstens $2,4 miljard (sowat R34 miljard) meer kos terwyl die ongekende vredestydvertraging en ʼn rits gesondheidsmaatreëls ʼn begroting opblaas wat reeds ver oor die $13 miljard (sowat R190 miljard) was.

Dit lyk ook of geesdrif vir die Spele taan. ʼn Opname in Julie het getoon dat net een uit vier mense wil hê die Spele moet aanstaande jaar gehou word – en ʼn meerderheid steun óf ʼn verdere uitstel óf ʼn algehele kansellasie van die geleentheid.

Die uitvoerende hoof van die Tokio-spele, Toshiro Muto (regs) tydens ‘n aanlyn-nuuskonferensie. (Foto: Carl Court/AFP)

“Dit kan dalk as te duur gesien word, maar ons het goed gedoen om die koste te beperk. Ek dink dit hang af van hoe jy na die situasie kyk,” het Toshiro Muto, uitvoerende hoof van die 2020 Olimpiese Spele, gesê.

Die organiseerders het die getal gratis kaartjies verminder, die openingseremonie afgeskaal en gesny op gelukbringers, baniere en etes – maar tot dusver is die koste met net $280 miljoen (sowat R4 miljard) besnoei.

“Dit gaan eenvoudig eerder as feestelik wees, maar ek hoop dit sal steeds iets roerend wees wat mense deur die krag van sport aanmoedig,” het Muto gesê.

Die organiseerders is vasbeslote dat die geleentheid volgende jaar voortgaan, selfs al het die pandemie dalk nog nie bedaar nie.

Hulle wil buitelandse toeskouers verwelkom en beoog om kwarantynbepalings te skrap.

Die organiseerders beoog ook dat alle aanhangers maskers dra, nie mag juig nie en hul kaartjies moet hou sodat hulle moontlik later opgespoor kan word.

(Argieffoto: Leo Correa/AP)

Atlete gaan gevra word om laat op te daag en vroeg te vertrek, hul tyd in die Olimpiese dorpie te beperk en nie hard sal praat nie, fisieke kontak sal vermy en maskers sal dra wanneer hulle nie deelneem of oefen nie. Atlete sal met hul aankoms siftingstoetse ondergaan en elke vier tot vyf dae vir die virus getoets word.

“Ek dink die Spele sal voortgaan. Waaroor niemand seker is nie, is of ons ʼn stadion volgepak met opgewonde, luidrugtige en geesdriftige aanhangers gaan sien,” het Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, die afgelope maand gesê.

Die uitdaging vir organiseerders is beduidend. Die Spele bring 11 000 atlete uit 206 lande byeen en hulle word vergesel van minstens 5 000 beamptes en afrigters, 20 000 mediaverteenwoordigers en 60 000 vrywilligers.

Die belang van die Olimpiese Spele strek egter veel wyer as net sport.

Ná die diplomatieke gebare by die Pjongjang Winterspele in 2018, bestaan die moontlikheid om die Noord-Koreaanse leiers Kim Jong-oen na die Spele in Tokio te nooi en ʼn beraad met Suid-Korea, China en die VSA – met Japan as gasheer – te hou.

Nog ʼn oorheersende tema in 2020 – teenstand teen rassisme – dreig om spanning in Tokio te veroorsaak.

Vroeg in Desember het Coe Wêreldatletiek se presidentstoekennings aan Tommie Smith, Peter Norman en John Carlos gegee. Die drie 400 m-atlete het by ʼn medaljeseremonie by die Spele in 1968 in Mexikostad ʼn vuis in ʼn swart mag-saluut gelig.

“Ongelukkig is hul beweegrede en dit waarvoor hulle so dapper gestaan het, nog nie in geskiedenisboeke opgeneem nie,” het Coe gesê.

Thomas Bach, die hoof van die Internasionale Olimpiese Komitee, het geïrriteerd teruggekap en gesê enige gebare teen rassisme, soos die buig van die knie, teen die reëls sal wees wat “politieke en geloofsbemarking” by die Spele verbied.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.