George Floyd-moordenaar ‘22 keer in tronk gesteek’

(Foto: AFP/Minnesota Department of Corrections)

ʼn Gevangene in die VSA word van poging tot moord aangekla nadat hy Derek Chauvin, die voormalige polisiebeampte wat skuldig bevind is aan die moord op George Floyd, meer as 20 keer met ʼn mes gesteek het. Chauvin is op 24 November in die regsbiblioteek van die staatsgevangenis in Tucson, Arizona, aangeval.

Maroela Media het vroeër berig Chauvin is tot meer as twee dekades gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord op die 46-jarige Floyd, op wie se nek hy meer as nege minute lank gekniel het.

John Turscak (52), die man wat Chauvin aangeval het, het aan ondersoekers gesê dat die datum van sy aanval – Swart Vrydag, die dag ná die Amerikaanse Dankseggingsdag – bedoel is as ʼn simboliese verwysing na die Black Lives Matter-beweging.

“Turscak het aan korrektiewedienstebeamptes gesê hy sou Chauvin doodgemaak het as hulle nie so vinnig gereageer het nie,” lui die klag.

Die Amerikaanse distriksprokureur se kantoor in Tucson sê hy het Turscak van poging tot moord aangekla sowel as aanranding met die doel om moord te pleeg, aanranding met ʼn gevaarlike wapen en aanranding wat ernstige liggaamlike beserings tot gevolg gehad het.

“Turscak het ʼn medegevangene, DC, wat voorheen skuldig bevind is aan federale misdade in ʼn ander distrik, ongeveer 22 keer met ʼn geïmproviseerde mes gesteek,” volgens die klag.

Hoewel die klag nie Chauvin se volle naam gee nie, het ʼn amptelike bron aan AFP bevestig dat dit die voormalige Minneapolis-polisiebeampte is.

Daar was geen verdere inligting oor Chauvin se toestand beskikbaar nie.

Chauvin is in 2021 tot meer as 22 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan tweedegraadse moord, derdegraadse moord en tweedegraadse manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.