Derek Chauvin, die voormalige polisiebeampte wat aangekla word van die moord op George Floyd in Minneapolis in die Amerikaanse deelstaat Minnesota, word nou ook aangekla van belastingontduiking.
CNN berig Chauvin en sy vervreemde vrou word deur nege aanklagte wat verband hou met inkomstebelasting in die gesig gestaar. Die egpaar kan vyf jaar tronkstraf of ’n boete van $10 000 (sowat R164 000) vir elkeen van dié aanklagte opgelê word sou hulle skuldig bevind word.
Hofstukke toon dat Chauvin en sy vrou, Kellie, van 2016 tot 2018 na bewering geen inkomstebelastingopgawes by die staat van Minnesota ingedien het nie. Die egpaar het ook na bewering nie al hul inkomste op hul inkomstebelastingopgawes vir 2014, 2015 en 2019 verklaar nie.
BBC berig die Chauvins word daarvan beskuldig dat hulle hul gesamentlike inkomste van $464 433 (sowat R7 miljoen) van 2014 tot 2019 onderverhaal het. Dít sluit geld in wat Chauvin gemaak het deur veiligheidswerk en naweekskofte by ’n restaurant.
Chauvin het gedurende dié tyd as polisiebeampte in Minneapolis sowel as ’n sekerheidswag by verskillende ondernemings in Minneapolis gewerk, terwyl Kellie ’n eiendomsagent en fotograaf is.
Die egpaar het boonop nie die korrekte belasting betaal op ’n voertuig wat hulle in Minnesota gekoop het nie, toon die hofstukke.
’n Ondersoek na die egpaar se inkomstebelastingopgawes is in Junie vanjaar van stapel gestuur. Dit volg kort nadat Chauvin van die moord op Floyd aangekla is.
Maroela Media het vroeër berig Chauvin het in Mei langer as agt minute op Floyd se nek gekniel tydens sy inhegtenisneming wat eindelik tot Floyd se dood gelei het. Chauvin en drie kollegas is kort ná die voorval geskors.
ʼn Video wat wys hoe Floyd ná sy inhegtenisneming op die grond lê en na sy asem snak terwyl Chauvin op sy nek kniel, is ook kort na die voorval wêreldwyd gedeel en het tot groot rassespanning in die VSA gelei.
Kellie het in Junie aansoek gedoen om van haar man te skei. Dié is tans in aanhouding vir die moord op Floyd.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Kenmerkend dat CNN sy eie veldtog voer. Het die tweede post mortem van Floyd al die lig gesien ?
Nou wat is nou nuuswaardig hieraan seker al die korrupte amptanare in SA betaal nie belasting nie
Die mes is in vir Chauvin, hul sal als probeer om hom nie ñ vry man te laat gaan nie. Indien hy skuldig is, moet die reg sy gang gaan.
Ek wonder of prokureurs oor hul voete val om die regsaak van Chauvin vs moordsaak teen Floyd aan te pak?
kan ek ook daar gaan werk? R7miljoen vir 5 jaar se veiligheids- en restaurantwerk. Dit klink na n fantastiese bedrag. Soorgelyke werk in SA sal NOOIT oor 5 jaar R7miljoen betaal nie, maar VEEL minder.
Hoekom noem hulle nie sommer Floyd se rooskleurige verlede in dieselfde berig nie?