Gerard Butler se huis brand af

Gerard Butler voor die puin van sy woning op die dorp Malibu, wie se 12 600 inwoners almal ontruim moes word. Foto: Twitter

Die Hollywood-akteur Gerard Butler se huis het ook in die slag gebly in die enorme bosbrand wat reeds dae lank in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië woed.

Die brand in die suide van die staat het versprei na die woongebied Malibu, waar ook Butler se huis nou in die slag gebly het, berig die Nederlandse oggendblad De Telegraaf.

Butler beskryf die situasie as “hartverskeurend”, maar sê hoe geïnspireerd hy is deur die moed van die brandbestryders wat probeer om die vlamme te blus. Op die oomblik is al Malibu se sowat 12 600 inwoners na veiligheid gebring asook inwoners van ander gebiede in die omgewing van die stad Los Angeles.

Nog sterre wat hul wonings kwyt is, is die sanger Robin Thicke en die werklikheidster Caitlyn Jenner.

Intussen is nog ses mense dood in die bosbrand in die noorde van die deelstaat. Die dodetal in dié brand het nou tot 29 gestyg nadat nog slagoffers gevind is, berig Fox News. Dit sluit vyf liggame in wat ontdek is in ʼn woning en een in ʼn voertuig.

Met ʼn verdere 228 waarvoor nog nie verantwoording gedoen kan word nie, is Camp Fire die dodelikste bosbrand in Kalifornië se opgetekende geskiedenis.

Sedert dit Donderdag ontstaan het, het dié brand, wat die dorp Paradise in puin gelê het, sowat 45 000 hektaar afgebrand. Meer as 6 400 wonings is verwoes in die brand wat nou 25% onder beheer is.

Die gesamentlike dodetal in die suide en noorde van Kalifornië staan nou op minstens 31 en die gebied wat afgebrand het op meer as 1 000 km2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

IK ·

Ek wat dit nie fisies beleef kan my net indink oor die ramp wat daar plaasvind. Die brandbestryders doen ook hul werk (en ek vermoed daar is heelwat vrywilligers?) wat vergoeding nie eerste stel.

Bid saam! ·

Dis verskriklik!!! So baie wonings verwoes? die arme mense moet weer van voor af als opbou en vir party is dit nie so maklik finansieel nie. My hart gaan uit na elkeen!!! Kom ons bid vir genade dat die verwoestende brande geblus sal word!

Elize C ·

Dit is so hartseer, soveel skade. Ons het saterdag-aand na Il Divo se optrede by die Sun Arena gaan kyk, en moes toe hoor dat een lid van die groep – Sebastian, nie sal optree saam met die groep nie, hy het vroeër teruggekeer na sy woning in Malibu om sy gesin by te staan in die verwoestende brande. Hulle kon gelukkig bevestig dat sy gesin veilig is, maar het geen verdere besonderhede gehad oor sy eiendom nie. Dit was nog steeds ‘n briljante optrede, die ander drie lede het sy plek volgestaan. Ons kan al die mense wat nou soveel skade gelei het, net in ons gebede hou, en dankbaar wees vir die lewens wat behoue is.

VanAfrika ·

So jammer aan almal wat geliefdes, diere en eiendom verloor het. Kan nie help om te dink so bring Jesus ons weer tot ons knieë. Al hierdie sterre wat so hooghartig raak en God verwerp, Hy is nog steeds in beheer en sal erkenning eis. Sulke omstandighede laat ons weer bid.

Mark ·

Caitlyn Jenner se huis makeer niks. Sal miskien ‘n goeie idee wees om net eers julle feite na te gaan voordat julle berigte plaas, net ‘n voorstel.

Linda ·

Caitlyn Jenner se huis is nog nie afgebrand nie, alhoewel Miley Cyris se hele huis afgebrand het. Maroela moet hul feite regkry asb !!!

Erica ·

Hoewel ek ook simpatie met die trauma van die bekendes het is ek seker daar is nog ‘n huis of 10 wat net so luuks was of hulle het genoeg geldjies in die bank om weer ‘n huis te bou. My simpatie lê baie meer by diegene wat nou niks meer oor het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.