Gerugte oor koning is vals, sê Eswatini

President Cyril Ramaphosa en koning Mswati III in Kempton Park (28 Maart 2019) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die regering van Eswatini (Swaziland) ontken berigte dat koning Mswati III kritiek siek is en in die hospitaal opgeneem is.

“Die regering neem kennis van vals sosialemediaberigte dat koning Mswati III kritiek siek is weens Covid-19 en in die hospitaal opgeneem is. Dit is absolute vals nuus,” het Sabelo Dlamini, waarnemende woordvoerder van die regering, in ʼn verklaring gesê. “Dit gaan goed met sy majesteit se gesondheid.”

Dlamini het gesê dit spruit uit persone wat ten doel het om verwarring en paniek te saai. “Dit is onaanvaarbaar en verwerplik.”

Swaziland News het berig Mswati III is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem en hoëprofiel- koninklike bronne aangehaal.

Aldus die aanlyn koerant is die koning by Manzana Koninklike Hospitaal opgeneem en hy sukkel om asem te haal.

Die koerant het berig Lusendvo Fakudze, goewerneur van Ludzidzini-paleis, wou nie direkte vrae beantwoord nie, maar die land gevra om te bid vir hul koning. Die onderhoud het gevolg ná lede van die Umbutfo Eswatini-weermag as sekuriteitswagte by die hospitaal opgemerk is.

Die goewerneur het gesê die koning sal nie deel wees van ʼn Goeie Vrydag-diens nie, wat deur ʼn paar mense bygewoon is, maar het volgehou “hy sal ook bid, waar hy ook al is”.

Die koerant het in Maart berig Mswati III is in self-isolasie weens die koronavirus-pandemie ná hy ʼn afvaardiging van Taiwan ontmoet het. Die afvaardiging het Eswatini besoek om helikopters te skenk.

Twee Taiwannese soldate, wat deel was van die afvaardiging, was van die 400 weermagpersoneel wat in kwarantyn geplaas is vir die koronavirus, het Swaziland News berig en ʼn Taiwannese mediaberig aangehaal.

Die soldate is glo genooi om saam met die koning aandete te geniet waar hulle een-vir-een blad geskud het vir foto’s saam met die koning.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Hierdie ou is erger as die ou USSR. Korup soos nog nooit gesien is nie, beheer sy land soos Noord Korea en leef soos ‘n biljoener danksy sy land se geld. Ek glo nie een woord wat daar vandaan kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.