Gesin se woef keer ná agt jaar terug

Shaggy (Foto: Erin Hooley/Chicago Tribune)

ʼn Gesin in Chicago in die VSA het ná agt jaar hul vermiste hond teruggekry.

Toe iemand Tina Anderson verlede week bel en vra of sy dalk haar hond verloor het, het sy gesê die dier is veilig in haar kombuis. Toe hulle egter vra of die hond se naam Shaggy is, het sy byna die telefoon laat val.

Shaggy het agt jaar gelede uit die Andersons se erf verdwyn. “Ek was in die oggende 02:00 en 03:00 nog buite om plakkate op te sit, op soek na ons vermiste Shaggy, maar dit was alles tevergeefs.”

Shaggy het vroeër al ook verdwyn, maar teruggekeer. Dié keer het hy egter nie teruggekeer nie en Anderson en haar kinders was baie hartseer – tot nou toe.

Shaggy, ʼn Yorkie/Cocker Spaniel-kruising, is op 6 Januarie as ʼn rondloperhond aan die polisie oorhandig. Die polisie kon aanvanklik nie ʼn mikroskyfie opspoor nie, en sy foto is op ʼn webwerf gepubliseer saam met foto’s van ander diere wat nie base het nie. Dié webwerf word bedryf deur polisiebeampte lt. John Garrido en sy vrou, Anna.

ʼn Volledige skandering is toe van Shaggy gedoen en ʼn mikroskyfie is uiteindelik opgespoor – dit het net in die hond se lyf geskuif. Beamptes kon dus toe met Anderson kontak maak.

“Mikroskyfies word gewoonlik tussen die skouerblaaie van die hond geplaas. Sommige van die ouer weergawes kan skuif, en dié een het geskuif,” het Garrido verduidelik.

Shaggy (Foto: Erin Hooley/Chicago Tribune)

Anderson het gesê sy en haar gesin, wat al twee keer in Chicago verhuis het sedert Shaggy verdwyn het, kan nog steeds nie glo hul geliefde woef, wat nou 12 jaar oud is, het na hulle teruggekeer nie. “Om mens se hond te verloor is byna soos ʼn kind wat ontvoer word – dis soos een van mens se familielede wat verdwyn.”

Niemand is seker waar Shaggy die afgelope agt jaar was nie, maar Anderson vermoed hy het uit die erf ontsnap, iemand het hom gevind en hom gehou. Sy vermoed dat hy intussen ook van die mense ontsnap het wat hom gehou het, of dat hy verlate gelos is op straat en uiteindelik by die polisie ingedien is.

Shaggy het nie sy naam onthou nie en was “bietjie huiwerig” op die eerste aand, sê een van die dogters, Daisha (nou 24 jaar oud). “Teen die volgende dag het hy egter nie my sy verlaat nie!” Hy het ook vriende gemaak met die Andersons se ander hond, Ebony.

Anderson het Shaggy na ʼn veearts geneem waar hulle gehoor het hy is blind in sy een oog, het ʼn katarak in die ander oog en infeksie in albei ore. Hy is ook oorgewig, het slegte tande en loop baie stadig. Sy het gesê bloedtoetse, X-strale en ander veeartsdienste gaan baie duur wees, maar Daisha het onderneem om geld in te samel vir die veearts se rekening.

Garrido het gesê sy reddingsgroep sal ook ʼn bydrae lewer tot Shaggy se mediese onkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adel ·

Aaawh wat ñ pragtige storie, so bly julle 4been kind is nou weer veilig by die huis.

Skerp Spioen ·

Dalk het Shaggy maar net sy naam gaan gestand doen….

Poppie ·

Hartseer storie met ‘n gelukkige einde. Dalk het die 2de eienaar nie kans gesien vir ‘n ou woefkind wat halfpad blind/oorprobleme/uit tande/oorgewig is nie. Myne ook nou 12 jaar oud en ek sien die vlees wil nie meer nie, maar die gees is nog gewillig. Sal haar bystaan en al ons liefde gee tot sy haar koppie neerle.

A Mac ·

Dis nou ‘n hartseer storie met ‘n gelukkige einde. Maar wat my die wegholhorries gee is as mense praat van “woef”. Dit klink so infantiel as jy praat van “my woef”. Dis ‘n hond!!!! Praat asseblief soos ‘n grootmens. (Ek staal myself maar vir al die aanvalle oor ek nie mense se woef-woord kan hanteer nie, ek self het ses gesteriliseerde honde, maar geen “woef” nie)

Nettie ·

@a Mac – woef, brak, gedierte, hond, skepsel, “sypaadjie-special” – maak nie saak hoe jy jou hond aanspreek nie; hulle is almal spesiaal en geliefd vir hul eienaars. Die feit dat hierdie HOND na soveel jaar weer met sy eienaars herenig is, is ‘n wonderwerk. Die feit dat hy oorgewig is en sleg tande het, laat my dink dat hy in die “sorg” van iemand was tot redelik onlangs.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.