Gesin van SA sakeman in Mosambiekse tronk skep moed

André Hanekom word reeds sedert Oktober verlede jaar in Mosambiek aangehou. Foto: Facebook

Familielede van ʼn Suid-Afrikaanse sakeman wat al van Augustus verlede jaar af op oënskynlik valse aanklagte in Mosambiek aangehou word, sê hulle is dankbaar dat die Suid-Afrikaanse regering eindelik ná vyf maande aangebied het om hom by te staan.

Maroela Media het Sondag berig Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Suid-Afrika se hoë kommissaris in Mosambiek opdrag gegee om André Hanekom se saak fyn dop te hou en hom in die gevangenis te besoek nadat sy familie haar laat weet het hulle is bekommerd oor sy welstand.

“Die hoë kommissaris het die minister ingelig dit gaan goed met mnr. Hanekom in aanhouding en dat talle aanklagte hom in die gesig staar. Hy sal binnekort voorkom,” het die departement vroeër gesê.

My ma het eers die volgende middag vasgestel waar hy was.

Hanekom se dogter, Andrie, sê vier vermomde mans in militêre uniform het haar pa, wat al 26 jaar lank in Mosambiek werk, op Woensdag 1 Augustus verlede jaar geskiet. “My ma [Francis] het eers die volgende middag vasgestel waar hy was. Sy het die Vrydagoggend gery en hom in die Mueda-hospitaal besoek.”

Andrie vertel die polisie en dokter het heeltyd gesê haar pa is gered. “Hy is ʼn paar dae later met ʼn diplomatieke helikopter na Pemba-hospitaal gevlieg. My ma was daar voor hy gevlieg het en ná baie gestoei en twee dae het Pemba se polisie en Maputo bevestig my pa is veilig in Pemba.”

André en Francis Hanekom. Foto: Facebook

Dis toe dat die nagmerrie vir die gesin begin het. “Hy het skaars in die hospitaal beland,” vertel Andrie, “toe neem iemand ʼn foto [van hom] en begin die gerug loop dat ʼn ‘terroris’ [haar pa] in die hospitaal is. Die polisie wou nie sê wie die foto geneem het nie, maar het net gesê hy is in hegtenis geneem.”

Nadat sy gesin by die hof aansoek gedoen het om die polisie te dwing om te sê op watter aanklagte Hanekom aangehou word, het die polisie op 23 Augustus by die hospitaal opgedaag, sy vingerafdrukke geneem en hom die week daarna op ʼn “absurde klag” in hegtenis geneem, vertel Andrie.

Hy was twee weke lank in die slegste tronk.

“Hy was twee weke lank in die slegste tronk,” sê Andrie, “maar die dag nadat die prokureur hom gaan spreek het, het hy uit die tronk verdwyn. Ná ʼn soektog is hy in die tronk in Mocimboa opgespoor, waar die saak teen hom voortgesit is.”

Haar ma het die verhoor in die hof gevolg. Al was die inhegtenisneming volgens Andrie vals en was daar glo geen bewyse teen hom nie, het die polisie gesê weens die erns van die aanklag sou hulle voortgaan met die saak teen hom.

Op 10 Oktober is Andrie se ma na die gevangenis in Mocimboa om haar pa te gaan haal nadat borgtog aan hom toegestaan is, maar die polisie het hom na bewering weggesteek. Toe sy by die bevelvoerder wou weet wat van haar man geword het, het hulle gedreig hulle sou haar toesluit as sy aanhou vrae vra, vertel Andrie. “My pa is uit die polisiestasie ontvoer. Niemand het geweet waar hy was nie.”

Sowat ʼn maand later, op 6 November, het vermoedelik die polisie fakkels kom steel van haar pa se boot, waarmee hy huurvaarte vir hengelaars onderneem het. “Daarmee wou hulle ʼn valse saak aanhangig maak om my pa nog langer aan te hou.”

Nou is ek nie meer alleen nie.

Sy gesin het toe vasgestel Hanekom word op die militêre basis in Mueda aangehou. “Ná baie stoei en bitter min hulp van Suid-Afrika is die ‘terroris’ op 1 Januarie aangekeer met geen formele inhegtenisneming nie en die inligting van die saak wat aan die pers gelek is.”

Hanekom se vrou, Francis, het Sondagaand op Facebook haar dank teenoor die hoë kommissaris betuig wat ná vyf maande aandag gee aan haar man se situasie. “Ek is seker hul teenwoordigheid sal ʼn baie voordelige uitwerking hê in ons stryd teen die onreg wat André aangedoen word. Nou is ek nie meer alleen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.