Gesin voer glo drie selfmoordbomaanvalle uit

Beamptes ondersoek die wrak van die motorfiets en ander bewyse op die toneel van die aanval by ʼn kerk in Surabaya, Indonesië (13 Mei 2018). Foto: Trisnadi/AP

Minstens 13 mense is dood en talle ander beseer in selfmoordbomaanvalle Sondag by drie kerke in Surabaya in Indonesië in ʼn gekoördineerde aanval wat volgens owerhede deur een egpaar en hul kinders uitgevoer is.

Die aanvalle word bestempel as die ergste nóg sedert die Bali-bomaanvalle in 2002.

Volgens die polisie is ses van die oorledenes lede van die gesin wat glo die aanvalle uitgevoer het, insluitend twee dogtertjies van onderskeidelik nege en 12 jaar oud. Minstens 41 mense is in die aanvalle beseer wat deur Indonesië se president as “barbaars” bestempel is.

Die aanvalle het almal Sondag omstreeks 07:30 plaasgevind enkele minute uitmekaar terwyl kerkgangers na die onderskeie kerke gestroom het vir die oggenddienste.

Polisiebeamptes staan wag naby die toneel waar ʼn bom ontplof het by die Santa Maria-kerk in Surabaya, Indonesië (13 Mei 2018). Foto: Trisnadi/AP

Tito Karnavian, die nasionale polisiehoof, het gesê die pa van die gesin het ʼn voertuigbom laat ontplof, twee seuns van 16 en 18 jaar oud het ʼn motorfiets in hulle aanval gebruik en die ma was glo saam met haar twee jong dogters vir die derde aanval verantwoordelik. Die ma en albei dogtertjies het ploftoestelle aan hulle lywe gedra, het Karnavian gesê.

Die eerste ontploffing het Sondag by die Santa Maria Rooms-Katolieke kerk gebeur, gevolg deur nog ʼn aanval by die Surabaya Centre Pentecostal- kerk en die GKI Diponegoro- kerk minute later.

Volgens die polisie het die gesin se tienerseuns, Yusuf (18) en Alif (16), met hulle motorfietse tot by die ingang van die Santa Maria Rooms-Katolieke kerk gery waar hulle hul bomme laat ontplof het. Hul pa, Dita Futrianto, het met ʼn motorbom in die Surabaya Centre Pentecostal-kerk ingejaag. Die ma van die gesin, Puki Kuswanti, en haar twee dogters, Fadila Sari (12) en Pamela Rizkita (9) het bomme in die Diponegoro-kerk laat afgaan.

Lede van die polisie se bomeenheid ondersoek die wrakke van motorfietse by die toneel van ʼn selfmoordbomaanval by ʼn kerk in Surabaya, Indonesië (13 Mei 2018). Foto: Trisnadi/AP

Karnavian het gesê gegrond op ʼn ondersoek van die oorledenes se oorskot was die ploftoestelle om die ma en haar dogters se middels vasgemaak. Stukke glas en beton het na die aanval by die ingang van die Santa Maria-kerk gesaai gelê en die toneel is deur gewapende polisie afgesper. Reddingspersoneel het slagoffers in ʼn nabygeleë veld behandel terwyl beamptes die wrak van die motorfietse wat in die aanval gebruik is ondersoek het.

Volgens Karnavian het die gesin van Sirië na Indonesië teruggekeer. Die Islamitiese Staat (Isis) het nog tot onlangs aansienlike dele van Sirië beheer.

Pres. Joko Widodo in sy motor nadat hy een van die tonele van die drie selfmoordbomaanvalle by kerke in Surabaya, Indonesië besoek het (13 Mei 2018). Foto: AP

In 2002 het bomaanvalle op die toeriste-eiland Bali tot die dood van 202 mense in een aand gelei. Dit was ongetwyfeld Indonesië se dodelikste terreuraanval, maar die gebruik van kinders in Sondag se drie aanvalle in Surabaya het skokgolwe reg oor die wêreld gestuur.

Kenners van militante netwerke waarsku al jare lank dat die geraamde 1 100 Indonesiërs wat na Sirië gereis het om by Isis aan te sluit ʼn groot risiko inhou indien hulle na Indonesië terugkeer.

Isis het verantwoordelikheid vir Sondag se aanvalle aanvaar in ʼn verklaring wat deur sy Aamaq-nuusagentskap gedra is. Die verklaring het egter niks genoem van ʼn enkele gesin of kinders wat deel van die aanvalle was nie en beweer daar was slegs drie aanvallers.

Paramedici behandel een van die beseerdes op die toneel van ʼn selfmoordbomaanval by ʼn kerk in Surabaya, Indonesië (13 Mei 2018). Foto: Trisnadi/AP

Pres. Joko “Jokowi” Widodo het die tonele van die drie aanvalle besoek en dit bestempel as “lafhartige optrede” wat “uiters barbaars is en die perke van menslikheid oorskry”.

Setyo Wasisto, nasionale woordvoerder van die polisie, het later gesê die polisie het vier vermeende militante doodgeskiet en nog twee in hegtenis geneem in dorpe in Westelike Java. Dit is nie duidelik of hierdie verdagtes met die kerkaanvalle verband hou nie.

Christene, waarvan baie deel van die etniese Chinese-minderheid is, maak ongeveer 9% van Indonesië se totale bevolking van 260 miljoen uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kindersoldate ·

9 en 12 jaar oud. IN SA word die kriminele kinders wat petrolbomme gooi en mense met bakstene kap en gooi en tyres aan die brand steek beskerm . want hulle is minderjarige en word in die sorg van ouers vrygelaat, nes hulle in ‘n skermutseling iets oorkom is dit ”n onskuldige kindjie wat oppad skooltoe was’. hulle het net gou die coke-bottel met petrol en ‘n vuurhoutjie uit sy hand gehaal en gemaak of hy niks verkeerds gedoen het nie .. KINDERS WORD DEUR OUERS OPGESTEEK om wandade te pleeg juis omdat die strawwe vir kinders so lig is . MOENIE hulle miskyk nie!!

Casper Labuschagne ·

Ek het onlangs Morten Storm se puik boek, “Agent Storm: My Life Inside al Qaeda and the CIA” gelees. Wat opvallend was, is dat onder leiding van geestelikes geskoei in die Wahabi skool, sal ‘n beduidende deel van diegene wat die Quran asook die Wahabi interpretasie van die Sunni tak van Islam intens bestudeer, tot die noodwendige gevolg kom dat Jihad teen die ongelowige Westerse beskawing hul heilige plig is. Sulke persone sal dan noodgedwonge geroep wees om martelaars vir hul geloof te word. Gevolglik is dit geensins toevallig dat verskeie lede van dieselfde gesin onderskeidelik aanvalle sal uitvoer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.