Geskiedenis gemaak tydens spesiale marathon

Eliud Kipchoge na hy geskiedenis gemaak het. Foto: (AP Photo/Ronald Zak)

Eliud Kipchoge het die eerste mens geword om ʼn marathon in minder as twee uur te voltooi, maar dit sal egter nie as ʼn wêreldrekord geld nie.

Die Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer van Kenia het die Ineus 1:59-uitdaging in Wene, Oostenryk, in 1 uur, 59 minute en 40 sekondes voltooi. Die uitdaging is spesiaal gereël vir die poging om ʼn marathonafstand, 42,4 km, in minder as twee uur te probeer voltooi.

Kipchoge is deur 36 pasaangeërs in afwisselende groepe vergesel en dit is een van die redes hoekom die Internasionale Vereniging van Atletiek-federasies dit nie as ʼn wêreldrekord sal erken nie.

Kipchoge het teen ʼn konstante gemiddelde tempo van 2:50 minute per kilometer gehardloop en was teen halfpad 11 sekondes voor die skedule. Die pasaangeërs het onttrek in die finale 500 m.

“Ek voel goed,” het Kipchoge gesê. “Ek is die eerste mens [wat dit reggekry het] en ek wil baie mense daardeur inspireer dat geen mens beperkinge het nie.”

Dit was Kipchoge se tweede poging om ʼn marathonafstand in minder as twee uur te voltooi nadat hy dié mylpaal in Mei 2017 met 26 sekondes tydens ʼn soortgelyke geleentheid op die Formule Een-baan in Monza, Italië, misgeloop het.

Kipchoge, wat in 2016 goud tydens die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro verower het, het al tien van sy 11 marathons gewen en is die amptelike marathonwêreldrekordhouer sedert hy die Berlyn-marathon in 2:01:39 gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cybersakkie

Give that man a Bells. Wel gedaan Eliud Kipchoge!

Marius

Baie geluk, ongelooflike prestasie

Ore

Merkwaardig,2:50/km is blitsig.Wel gedaan

De Villiers

Dis ongelooflik, om die minste te sê.
Net ń regstelling MM, ń volle maratonafstand is 42.2 km en nie 42.4 km nie.

Nico

Dit is merkwaardig maar met die manier waarop hy dit gedoen is onaanvaarbaar. Gelukkig blyk dit dat die internasionale beheer liggam dit in dieselfde lig sien.